Die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg is nie goed deurdink nie en kan baie onvoorsiene en negatiewe gevolge vir veral grondeienaars inhou, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts het vandag met die Tweede Lesingsdebat oor die Wysigingswetsontwerp gesê die gevolge raak veral duidelik wanneer ‘n mens die groter prentjie van die regering se rampspoedige grondhervormingsprogram in ag neem wat gekenmerk is deur swak uitvoering, korrupsie, vyandigheid jeens boere en die mislukking van swart toetreders.
Hy sê baie min titelaktes is tot dusver aan nuwe swart boere oorgedra, hulle het min of geen ondersteuning met hul boerderye gekry nie en veral die feit dat die oorgrote meerderheid tot dusver geld bo grond verkies het, dui op die mislukking van die program.
“Die ideaal van die ou Esta-wetgewing was om mense op landelike grond te beskerm, en was ‘n goeie voorbeeld van die ANC se obsessie om sosiale probleme deur wetgewing te probeer oplos.
“Daar word erken dat geen Regulerende Impakevaluering (RIA) gedoen is oor die proses om fondse vir die projek te skuif nie. Dit is noodsaaklik dat so ‘n proses deur die parlement behandel word wat nie gedoen is nie. Die wetsontwerp sal daarom terug moet gaan na die betrokke komitee.
“Een van die ernstige gebreke van die wetsontwerp is om ‘n reg aan enige persoon te gee om sy familie op enige grond te begrawe. Indien dit toegelaat word, maak dit die grondeienaar oop vir moontlike toekomstige grondeise.
“Verder, gegewe die regverdige vrese wat boere het vir plaasaanvalle en –moorde, kan hulle eenvoudig nie bekostig om vreemde grafte en mense vir begrafnisse en rituele op hulle plase toe te laat nie. Niemand in die ANC het daaraan gedink nie.
“’n Verdere onbedoelde gevolg is dat boere eenvoudig al hoe minder mense op hulle grond sal laat woon en boerdery sal meganiseer. Uiteindelik is die stryd nie meer een tussen boere, werkers en inwoners nie, maar tussen die werkers en robotte.
“Gegewe die onsekerheid wat boere tans het oor die eienaarskap van hul grond weens ANC-uitsprake van onteiening sonder vergoeding, kan mens ook verstaan dat hulle nie dié wetgewing sal vertrou nie.
“Daar is tóg 'n oplossing en dit is die skep van agri-dorpe deur die regering in vennootskap met boere. Hierdie dorpe sal in staat wees om hulpbronne te skep om huise, skole, hospitale en winkels te bou en verdere werksgeleenthede te skep. Dit sal plaaswerkers in staat stel om naby hul werksplekke te woon en hul kinders sal toegang tot onderwys te hê wat sal verseker dat hulle eendag suksesvolle grondeienaars kan word.
“Kom ons wees meer kreatief om lewensvatbare oplossings te vind in plaas van net toekennings uit te deel wat nie die probleem op 'n permanente wyse sal oplos nie,” sê adv. Alberts.
• Na adv. Alberts se toespraak het die minister erkenning gegee aan die voorstelle van agri-dorpe en gesê dit bied wel ‘n werkbare alternatief. Adv. Alberts sê ook dit is jammer dat die DA wel die wetsontwerp steun aangesien dit net kosmetiese oplossings bied soos om ‘n pleister oor ‘n broeiende sweer te plak.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403