Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wysigingswetsontwerp op basiese onderwyswette (Bela Bill): Volledige verslag van openbare deelname nog nie deur komitee aanvaar

Die basiese onderwyswettewysigingswetsontwerp (Bela Bill) het nogmaals die wind van voor gekry.

Daar is verwag dat die portefeuljekomitee vir basiese onderwys die saamgestelde verslag van alle openbare deelname vandag sou aanvaar. Maar, aangesien lede die verslag minder as 24 uur voor die vergadering ontvang het, gaan dit eers op 15 Augustus tydens ʼn fisieke vergadering oorweeg word.

Die verslag ontleed skriftelike- en mondelinge voorleggings aan die komitee in Kaapstad, sowel as skriftelike- en mondelinge deelname wat tydens besoeke aan drie sentra in elke provinsie ontvang is.

Die syfers sal nog in besonderhede hanteer word, aangesien dit lyk of alles nie reg opgetel is nie.

Volgens die verslag soos dit versprei is, ondersteun 14 801 (56%) van die 26 593 deelnemers die wetsontwerp, terwyl 10 128 (38%) dit verwerp. Die res steun dit gedeeltelik, of het nie aangedui nie.

Die neiging is duidelik dat elektroniese voorleggings oorwegend teen die wetsontwerp is (88%) terwyl voorleggings wat per hand of koerier afgelewer is dit steun (98%).

Met die provinsiale besoeke was 46% van mondelinge voorleggings vir die wetsontwerp en 43% daarteen. Diegene wat vorms ingedien het, was 50% daarvoor en 37% daarteen. In albei gevalle was die res onbeslis of het nie aangedui nie.

Die VF Plus is teen die wetsontwerp in geheel gekant. Die elektroniese rewolusie wat onderwys getref het, veral sedert die Covid-19-verwante grendelstaat, word glad nie verreken nie.

Dit is dus verouderd voordat dit nog wet geword het. Selfs erger is die sentralisering van mag in provinsiale departementshoofde, ten koste van skoolbeheerliggame wat in gemeenskappe gewortel is.

Wanneer die wetsontwerp van 15 tot 18 Augustus artikel-vir-artikel bespreek word, sal die VF Plus sy voorstelle weereens uiteensit.

Dit behels dat skoolbeheerliggame hul magte moet behou; dat ʼn onafhanklike onderwysreguleerder ingestel moet word; en dat die keusevryheid in kurrikulumkeuse wat reeds ʼn werklikheid is, in die wet erken moet word.

Almal in Suid-Afrika verdien ʼn beter onderwysbedeling as wat die ANC wil verskaf.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.