fbpx
Vryheidsfront Plus

Lesufi bestee miljoene aan vredesbeamptes terwyl Gautengse ekonomie kwyn

Die VF Plus het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, vandag in die Gautengse wetgewer van politieke opportunisme beskuldig met die aanstelling van duisende vredesbeamptes terwyl die provinsie se ekonomie kwyn en werkloosheid hand oor hand toeneem.

Lesufi het in die wetgewer op ‘n reeks vrae van die VF Plus aangedui dat daar sover R50 miljoen geoormerk is vir die opleiding en aanstelling van vredebeamptes om te help met die bekamping van misdaad.

Aangesien die proses van opleiding en aanstelling ‘n voortdurende proses in dié stadium is, sal meer uiteindelik bestee word met die projek wat waarskynlik ‘n permanente item in die jaarlikse begroting gaan word.

Die probleem met hierdie teenmisdaad-projek is dat dit bloot ‘n pleister plak op die probleem van werkloosheid. Dit is net politieke teater met die oog op die oprakeling van steun vir die 2024-verkiesing.

ʼn Aanduider van Gauteng se benarde ekonomiese situasie blyk uit ʼn verslag van die Gautengse onderwysdepartement wat aandui dat al hoe meer middelklas-skole aansoek doen om deel te word van die skole-voedingsprogram.

Dit beteken dat talle sogenaamde middelklas-gesinne nie meer kan bekostig om vir hul kinders kos saam te stuur skool toe nie en dat talle middelklas-kinders nie meer behoorlik gevoed word by hul huise nie.

Lesufi se vredesbeamptes-program gaan geen sinvolle duik maak in die talryke werkloses in Gauteng se lot nie. Dit staat kan nie werk aan almal verskaf nie.

Die kwessie dat sommige mense hulle na misdaad keer om te oorleef, word glad nie aangespreek nie.

Gauteng se ekonomie is weens die ANC se inmenging in die vrye mark en sy gefaalde ekonomiese beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB), regstellende aksie (RA) en sinnelose vennootskappe met die wêreld se muishondlande in die swakste posisie ooit.

Die Gautengse ANC-regering het onder leiding van Lesufi geen idee meer wat hy moet doen om die provinsie se ekonomie aan die gang te kry nie. Geen groot nuwe beleggings vanuit die buiteland het in jare in Gauteng plaasgevind nie.

Die enigste volhoubare oplossing is die daarstel van ‘n koalisie-regering bestaande uit redelike opposisiepartye waarvan die VF Plus deel sal vorm na die 2024-verkiesing.

Dan sal sinvolle ekonomiese beleid en meer beleggings weer sorg vir ekonomiese groei en die skep van volhoubare werksgeleenthede.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.