Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vrouedag 2023: Vroue moet toenemend ʼn swaarder las in die samelewing dra

In die veranderende wêreld waarin ons woon, het die tradisionele rol van die vrou noodgedwonge ingrypend verander. Tog verwag die samelewing steeds van die vrou om haar rol as anker, moeder en opvoeder in die huis te vervul.

Hierdie rol en die uitdagings wat dit bied, het binne dekades só skerp in kompleksiteit toegeneem en verander só snel dat die impak daarvan op die samelewing indringend herbesoek sal moet word.

Die man is sekerlik vir alle praktiese doeleindes die man volgens die breër definisie van enkele dekades gelede. Vir die vrou geld dit hoegenaamd nie meer nie.

Om bloot te sê die vrou is toenemend ook broodwinner, sou ’n erg oppervlakkige beskouing wees van die vele aanpassings wat vroue in die onlangse verlede moes maak.

In ’n professionele werksomgewing moet sy ook kompeterend en selfgeldend wees. Iets wat dalk by die meeste mense verbygaan, maar nie minder uitdagend nie.

Alles vind plaas in ’n omgewing waar tradisionele huisgesinne toenemend verbrokkel. Dit is algemeen bekend dat sowat net een derde van alle kinders in Suid-Afrika in ’n huis met beide biologiese ouers opgroei.

Dit raak miljoene jong kinders wat self uitgelewer is aan enorme uitdagings wat tot onlangs totaal onbekend was in gesinsverband. Hulle het steeds ’n dringende behoefte aan die sagte, rigtinggewende hand van ’n moeder.

Intussen is die ewe snel groeiende tegnologie in hierdie situasie terselfdertyd ’n ewe groot voordeel as bedreiging aangesien dit toenemend die gaping van inligter en selfs opvoeder moet vervul.

In Suid-Afrika is selfs meer uitdagings met misdaad wat vinnig toeneem, werkloosheid, armoede en algemene verval onder die ANC-regering wat ’n daaglikse verskynsel geraak het.

Hierdie enigsins holistiese blik op die vrou in die moderne samelewing en die uitdagings van haar verskeidenheid rolle is beklemmend.

Deur die eeue is baie gevalle opgeteken van swaar gewonde soldate wat in hul grootste lyding en in hul sterwensuur na hul moeders uitgeroep het. Nie na die generaals of hul pa of geliefdes nie. Nee, dan word die hand uitgesteek en die laaste uitroep is; “moeder, moeder…”.

Dit is die een rol van die vrou wat nooit verander het nie: Sy is steeds die lig en middelpunt van die gesin, die stil krag van die gemeenskap en die fondasie van die samelewing.

Nie elke vrou word ‘n moeder nie, maar elke moeder is ‘n vrou. Sonder om die unieke bydrae van ander vroue gering te ag, laat die VF Plus met hierdie Vrouedag juis klem op die moeders val.

Die VF Plus bring vandag hulde aan die vroue van die wêreld na wie elkeen in blydskap of nood kan uitroep: “Moeder”.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.