Die Palmietfontein-ontwikkeling van laekoste-behuising in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) waarteen die VF Plus verskeie wesenlike besware het, is nie van die baan nie.
Dit blyk dat die ontwikkelaar die projek net tydelik gestaak het weens tegniese redes en dat dit weldra hervat sal word.
Die provinsie van Noordwes het die grond langs die bestaande woongebiede van Hillview en Doringkruin reeds in 2013 aan die munisipaliteit geskenk vir ontwikkeling.
Die beoogde projek is uitgebreid en sal bestaan uit agt fases met onder meer ʼn hoër- en laerskool en ander noodsaaklike geriewe vir die inwoners.
Die VF Plus besef die behoefte aan behuising, maar het beswaar aangeteken teen ’n aantal wesenlike probleme wat ’n vraagteken plaas oor die volhoubaarheid van die ontwikkeling en die impak daarvan op die omliggende woongebiede.
Een van die grootste besware van die VF Plus teen die projek is onsekerheid oor die koste daaraan verbonde en die geldelike impak op die Matlosana-munisipaliteit. Dit kan ’n groot bykomende las op reeds swaar belaste inwoners plaas.
Daar bestaan steeds nie ’n gedetailleerde begroting oor die ontwikkeling nie en Matlosana kan nie onnodige uitgawes bekostig nie.
Van die ander probleme wat die VF Plus voorsien is die verkeersdruk wat ’n groot uitbreiding sal meebring.
Daar is nie ’n behoorlike verkeersimpakstudie gedoen nie en die bestaande paaie is nie voldoende om ’n geraamde meer as 1 200 motors te akkommodeer nie.
Wat riolering aanbetref, is daar ook net ʼn “tydelike oplossing” met die duidelike veronderstelling dat Matlosane se huidige infrastruktuur vir riool en waterverwerking die bykomende druk moet hanteer.
Dit is bloot nie moontlik nie. Die bestaande infrastruktuur asook die gebrekkige onderhoud en instandhouding daarvan is reeds nie in staat om Matlosana behoorlik te bedien nie.
Rioolbesoedeling is ’n algemene verskynsel in Matlosana en die VF Plus voorsien dat die ontwikkeling ’n onhoubare krisis kan skep indien hierdie aspek nie dringend aangespreek word nie.
Van die ander probleme waaroor die VF Plus beswaar aanteken is:
• Die koste van die algemene groter infrastruktuur, die grondlaag wat volgens die ontwikkelingsverslag self bestaan uit “kleisand” en nie geskik is vir ’n nuwe ontwikkeling nie.
• Beplanning vir kragvoorsiening is nie behoorlik gedoen nie en daar is nie eens voorsiening gemaak vir onder meer bykomende substasies nie.
• Verskeie ander aspekte rondom die beplanning vir ’n groot uitbreiding wat soos bogenoemde nie in ag geneem is nie. Die ontwikkelaar se voorstel vir gebrekkige kragvoorsiening is byvoorbeeld dat inwoners van gas en sonkrag gebruik moet maak. Dit is nie haalbaar vir ’n behuisingsprojek vir mense wat finansieel sukkel nie en dien as duidelike bewys van die gebrekkige beplanning.
Die VF Plus wil inwoners van Matlosana daarop wys dat die ontwikkeling geensins gestuit is nie. Die aansoek van die ontwikkelaar is bloot weens tegniese redes tydelik teruggetrek en sal voortgaan sodra die probleme uitgestryk is.
Die VF Plus sal die proses deurgaans monitor en sal die publiek op hoogte hou van wanneer daar weer ʼn geleentheid is vir openbare deelname.