Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mogale City moet antwoord oor Magaliesburg-rioolaanleg

Die VF Plus het die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste, Peter Modise, versoek om ʼn verslag oor die disfunksionele Magaliesburg-rioolaanleg aan die raad voor te lê.

Die Magaliesburg-rioolaanleg, wat sewe jaar gelede teen ʼn bedrag van R84 miljoen voltooi is, dien geen doel nie aangesien die aanleg sedert sy ontstaan nie ten volle funksioneer nie.

Riool vanaf huise, plase, kleinhoewes en ondernemings word deur gravitasie na die rioolaanleg gevoer waarna pompe dit in verwerkingsdamme pomp. Die verwerkingsgedeelte van die aanleg het sedert die voltooiing daarvan nie gewerk nie.

Intussen spoel riool oor die verwerkingsdamme se walle na die Magaliesrivier wat uitmond in die Hartbeespoortdam.

Die pompe wat in Januarie vanjaar vir die eerste keer aangeskakel is, het intussen gebreek wat die hele aanleg tot stilstand gedwing het. ʼn Tender is intussen uitgesit vir die herstel van die pompe.

Die VF Plus het verlede jaar die Gautengse departement van landbou versoek om die rioolprobleem te ondersoek.

Die departement het bevind dat hoewel die rioolaanleg op sy grond is, Mogale City verantwoordelik is vir die onderhoud van die aanleg.

Restaurant- en gastehuiseienaars langs die Magaliesrivier dreig om hul deure te sluit weens die riool wat deur hul persele vloei.

Boere kan ook nie hul gewasse vanuit die rivier besproei of hul diere daaruit laat water drink nie. Hulle word gedwing om ten duurste boorgate te sink.

Die VF Plus se wetgewerlid verantwoordelik vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), me. Amanda de Lange, het ook geskrewe vrae aan die LUR, Mzi Khumalo, gerig rakende die probleem.

Die verval van kritieke infrastruktuur kan nie langer voortduur nie. Mogale City se nalatigheid skep nie net ʼn gesondheidsgevaar vir inwoners langs die Magaliesrivier nie, maar ook ʼn omgewingsgevaar.

Mogale City verdien beter as die ANC en sy koalisievennote.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.