Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Woorde en programme sonder optrede sal bendegeweld nie bestry

Die VF Plus spreek sy skok en medelye uit oor nóg ‘n voorval van bendegeweld in Cloetesville, Stellenbosch, waar ’n vierjarige dogtertjie en ’n sewejarige seuntjie Sondag tydens ’n skietery gewond is.

Die dogtertjie veg tans vir haar lewe nadat sy in die nek getref is, terwyl die seuntjie in sy arm gewond is.

Hierdie tragedie, wat plaasgevind het tydens die Sestien Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders, is ’n skending van elke beginsel van veiligheid en beskerming van kinders.

Dit is onaanvaarbaar dat kinders nie eens in hul eie woonbuurt veilig kan speel nie.

Hierdie probleem is niks nuut nie. Cloetesville en omliggende gemeenskappe leef al lank onder die juk van bendegeweld.

Wat wel duidelik is, is dat die situasie nou handuit ruk en indien dit nie dringend en daadwerklik aangespreek word nie, gaan nog meer onskuldige slagoffers sterf.

Die polisie moet onmiddellik gespesialiseerde teenbende-eenhede permanent na Cloetesville en omliggende hoërisiko-gebiede ontplooi om dwelmnetwerke te ontwrig, onwettige vuurwapens te verwyder en sigbare polisiëring dag en nag te herstel.

Die Stellenbosch-munisipaliteit moet sy wetstoepassing en kam-era-stelsels uitbrei en buurtwagte met toerusting en opleiding steun.

Die Wes-Kaapse- en nasionale regering moet ook dringend befondsing beskikbaar stel vir jeug-voorkomingsprogramme soos mentorskap, sport, vaardigheidsopleiding en na-skoolse bedrywighede wat kinders ’n alternatief bied vir die lokval van bendes.

Daar is nie meer tyd vir hol beloftes of tydelike operasies wat verdwyn sodra die kameras weg is nie. Dit is tyd vir volgehoue, onwrikbare optrede en verantwoordelikheid op alle vlakke van regering.

Die VF Plus doen ’n dringende beroep op elke inwoner van Cloetesville en Stellenbosch om saam te staan en aan te sluit by buurtwagte, verdagte bedrywighede anoniem aan te meld en mentors te word vir die jeug ten einde die gemeenskap terug te wen van bendes.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.