Die VF Plus verwerp die voorstel dat die Gautengse provinsiale regering beheer oor die Ekurhuleni-metro se ekwiteitsdeel vir openbare biblioteke moet kry.
Só ’n stap sal net nog ’n onderbefondsde mandaat skep wat die metro nie kan dra nie.
Luidens ’n verslag wat by die laaste raadsvergadering voorgelê is, word aanbeveel dat Ekurhuleni ’n ooreenkoms met die Gautengse departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning onderteken. Dit sal die provinsie in staat stel om die ekwiteitsdeel direk te bestuur. Gauteng het vir die 2025/26-jaar ’n toekenning van R14 miljoen en ’n oordrag van R9,25 miljoen bevestig.
Die VF Plus verwelkom bykomende befondsing, maar verwerp enige reëling wat die metro se beheer oor sy biblioteeknetwerk aan die provinsie afstaan.
Ekurhuleni het reeds gesien hoe dienste ineenstort wanneer provinsiale mandate sonder voldoende befondsing opgelê word – kliniekdienste is ’n duidelike voorbeeld.
Wanneer die provinsie die bestuur oorneem, verdwyn plaaslike aanspreeklikheid en word instandhouding vertraag, personeeltekorte vererger, hulpbronne kwyn en geriewe verswak.
Die VF Plus eis dat biblioteekbefondsing en -bestuur onder die metro se beheer bly en het dié bogenoemde voorstel verwerp.
Inwoners verdien stabiele, funksionele en plaaslik verantwoordbare biblioteekdienste.


