Lede van die VF Plus-koukus in die Tshwane-metroraad het tydens ‘n besoek aan verskeie woonbuurte tot die gevolgtrekking gekom dat infrastruktuurskade en kragonderbrekings sedert die begin van die maand nie net aan stormweer toegeskryf kan word nie.
Jarelange instandhoudingstekorte en die versuim om bome op sypaadjies en langs kraglyne betyds te snoei, dra grootliks by tot die krisis.
In Villieria en omliggende gebiede in die Moot, het bome weens die stormweer omgeval en kragkabels beskadig.
Alhoewel sekere woonbuurte se kragtoevoer intussen herstel is, was inwoners en sake-ondernemings vir byna ‘n week sonder elektrisiteit.
In Kilnerpark het vandale tydens die kragonderbrekings die infrastruktuur beskadig wat daartoe gelei het dat dit langer geneem het om te herstel.
In Waterkloof het bome wat ontwortel is nie net kragkabels nie, maar ook motors beskadig.
Die VF Plus was ook in Valhalla en omliggende gebiede in Centurion waar inwoners se kragtoevoer na byna ‘n week eers herstel is.
Tydens die oorsigbesoek is talle spanne van die metro teëgekom waar hulle besig was om beskadigde kragdrade te herstel, maar daar is ‘n groot agterstand weens te min werkers.
Die VF Plus bedank die werkers vir hul moeite om so spoedig moontlik die krag te probeer herstel te midde van die hoë werkslading en personeeltekort.
Tydens die oorsigbesoek het die party saam met sake-eienaars gewerk om kos en water aan die werkers te voorsien en hulle te ondersteun waar moontlik.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die Tshwane-metro om rampbestuursplanne te verbeter sodat herstelwerk vinniger en meer doeltreffend kan plaasvind.
Op die lang termyn wil die VF Plus ook hê dat bome voor die reënseisoen gesnoei word om skade en kragonderbrekings in die toekoms te voorkom.
Die metro benodig ook meer werkers – eerder as bestuurders – om dienslewering op grondvlak te bespoedig.
Die VF Plus sal die skade en herstelwerk noukeurig monitor en werkers ondersteun waar moontlik.


