Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Miljoene se onreëlmatige uitgawes in Ekurhuleni word sonder gevolge afgeskryf

Die VF Plus verwerp die besluit van die Ekurhuleni-metro om meer as R211 miljoen se onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes oor ses finansiële jare (2010/11–2015/16) sonder enige aanspreeklikheid af te skryf.

Die munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC) het die feite in ’n verslag blootgelê, maar die raad het bloot daarvan kennis geneem sonder om enige optrede te eis.

Onder die ernstigste oortredings is tenders van meer as R10 miljoen wat toegeken is sonder die vereiste goedkeuring van die rekeningkundige beampte.

Daar is ook groot kontrakte aangegaan wat vir meer as drie jaar onwettig verleng is.

Voorsieningskettingreëls is herhaaldelik oortree, onder meer deur dubbele betalings vir eiendomswaardasies. Verder is brandstofkontrakte toegeken sonder die verpligte belangeverklarings en kritieke ondersteunende dokumente is eenvoudig “verlore” of kan glad nie opgespoor word nie, wat dit onmoontlik maak om waarde vir geld te bewys.

Hierdie gebrek aan dokumentasie maak dit feitlik onmoontlik om amptenare of kontrakteurs aanspreeklik te hou.

Die VF Plus eis dat volle dissiplinêre én strafregtelike stappe teen die oortreders geneem word – selfs dié wat reeds die metro verlaat het.

Daar moet alle moontlike fondse teruggevorder word en die metro moet volledige openbaarmaking doen van die onreëlmatige bedrae per departement.

Geen afskrywing van onreëlmatige uitgawes mag plaasvind sonder duidelike, openbare verantwoording nie. Daarbenewens moet maatskappye en direkteure wat onwettig baat gevind het, op ’n swartlys geplaas word.

Belastingbetalers verdien ’n metro waar wanbestuur werklike gevolge het en nie nog ’n verslag wat in ’n laai verdwyn nie.

Die VF Plus sal hierdie saak bly opvolg en openbaar maak totdat geregtigheid geskied.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.