Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni se kragnetwerk stort in duie weens jarelange versuim en wanbestuur

Die kragonderbrekings wat groot dele van die Ekurhuleni-metro van die begin van die maand teister, kan net voor die ANC/EFF-koalisie se deur gelê word weens hul jarelange versuim om verouderde en vervalle kraginfrastruktuur te vervang of op te gradeer.

Kabeldiefstal, onbetaalde kontrakteurs, ʼn tekort aan vaardige personeel en die afgelope ruk se stormweer dra by tot die kragprobleme.

Gemeenskappe in onder meer Brakpan, Boksburg, Kemptonpark, Edenvale, Springs, Benoni, Alberton, Germiston en Nigel ly onder langdurige en herhalende kragonderbrekings weens die metro se verbrokkelende kragnetwerk.

Inwoners in dele van Brakpan het pas hul langste kragonderbrekings nog ondervind nadat die elektrisiteitstoevoer vir meer as ‘n week onderbreek is, met buurte in Boksburg wat vir meer as vyf dae aaneen in die duister gelaat is.

Dele van uitbreidings 2,3 en 4 in die sakekern van Kemptonpark, asook Croydon, Spartan en Bonaeropark, sit vanoggend vir die tiende agtereenvolgende dag sonder krag, met geen einde in sig of duidelike antwoorde van die metroraad af nie.

Hierdie is slegs die langste onderbrekings. Ander sporadiese onderbrekings word daagliks regoor die metro ondervind. Dié haglike omstandighede, wat grootliks voorkombaar was, dwing inwoners van Ekurhuleni om onder ondraaglike omstandighede te leef.

Terwyl pasiënte met mediese toestelle in lewensgevaar verkeer, kan mense wat van die huis af werk, nie ’n inkomste verdien nie.

Kos ter waarde van duisende rand bederf daagliks omdat yskaste afgeskakel staan, met veral huishoudings met bejaardes en kinders wat die ergste geraak word.

Dit is nie ’n ongerief nie, dis ’n humanitêre en ekonomiese krisis omdat die metro beheer verloor het.

Die VF Plus eis onmiddellike ingryping deur die provinsiale en/of die nasionale regering om toe te sien dat Ekurhuleni reg geruk word.

Voorts eis die VF Plus dat alle kontrakteurs onmiddellik betaal word om operasionele kapasiteit te herstel.

Die party wil ook sien dat ’n gespesialiseerde teen-kabeldiefstaleenheid op die been gebring word terwyl verhoogde veiligheidsmaatreëls in hoëriskogebiede ingestel word.

Die VF Plus sal nie toelaat dat die inwoners van Ekurhuleni in duisternis gelaat word terwyl die metro weens nalatigheid en politieke onbekwaamheid ineenstort nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.