Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wittes het gewerk en betaal vir grond

Regmatige grondeienaars het gewerk en betaal vir hul grond. Hulle gaan nie daaroor jammer sê nie,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die mosie op die wysiging van artikel 25 van die Grondwet oor grondonteiening gesê wanneer die ANC-regering praat oor grond en grondonteiening sonder vergoeding, verwys dit nie net na boere en landbougrond nie, dit raak elke eienaar van grond in Suid-Afrika, van ‘n plaas tot ‘n huis in ‘n stad of ‘n dorp.

Hy het gesê dit is belangrik dat alle grondeienaars besef dat elkeen se eiendom ter sprake is wanneer van onteiening sonder vergoeding gepraat word, maar dat dit nie sonder meer sal kan gebeur in Suid-Afrika wat ‘n grondwetlike demokrasie is nie.

Hy het gesê dit bly jammer dat wit mense altyd die sondebok gemaak word wanneer grondhervorming ter sprake is.

“Oor grondbesit moet dit duidelik gemaak word dat die regmatige eienaars van grond en eiendom in Suid-Afrika diegene is wat daarvoor gewerk het, wat dit betaal het, en wat ‘n titelakte in die titelakte-kantoor het.

“Daardie mense is die regmatige eienaars, en dit is nie moontlik om sulke mense se eiendom net af te neem sonder vergoeding nie. Suid-Afrika is ‘n grondwetlike demokrasie. Daar moet dus ‘n grondwetlike proses plaasvind voordat iemand se eiendom onteien kan word.

“Die regering moet net ophou om wittes die skuld te gee vir alles wat fout is. In hierdie geval is dit die onbevoegdheid van die regering self wat nie vordering kan maak met die proses nie.

“Meer as 5% van alle grond in die land beland deurentyd op die opemark. Baie daarvan, veral plase, is weens die droogte selfs onder markwaarde beskikbaar.

“Die regering is dus in ‘n baie goeie posisie waar hy miljoene hektaar grond onder markwaarde kan koop. Waarom doen hy dit nie? Waarom die retoriek dat wittes die proses verongeluk?

“Ek is bekommerd daaroor dat pres. Jacob Zuma gesê het grond sal sonder vergoeding afgeneem word. Dit lyk ten minste of sy lede in die parlement van hom verskil.

“Dit moet benadruk word dat regmatige eienaars vir hul grond gewerk en daarvoor betaal het. En hulle gaan nie daaroor jammer sê nie,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.