Maklike skuldverlenig is steeds die ondergang van baie mense in Suid-Afrika en die VF Plus is ten gunste daarvan om roekelose skuldverlening kort te vat en om ‘n helpende hand uit te steek na mense wat reeds in die maalkolk van skuld beland het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Adv. Alberts sê gegewe die hoë vlak van skuld in Suid-Afrika en die feit dat lenings toenemend roekeloos toegestaan word, steun die VF Plus die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid se inisiatief om ‘n wysigingswetsontwerp te skep om die Nasionale Kredietwet aan te suiwer deur kwessies wat tans nie deur die Wet hanteer word nie, aan te spreek.
Hy sê die doel hiervan is in ‘n neutedop om maatreëls rakende skuldberading te verskerp, om onder sekere omstandighede skuldenaars se inligting van ‘n sogenaamde swartlys te laat verwyder, om agentskappe te skep om as skudbemiddelaars op te tree en om seker te maak dat skuld wat verjaar het (ouer is as drie jaar) onder geen omstandighede ingevorder mag word nie.
“Daar moet verstaan word dat hierdie proses slegs ‘n pleister op die sweer plak. Die uiteindelike oplossing vir die probleem van mense met skuld is om seker te maak dat sterk ekonomiese groei plaasvind wat werk skep.
“Die gebeur tans nie onder die ANC-regering nie. Ekonomiese groei moet altyd die sentrale fokus bly terwyl hierdie proses as ‘n sydelingse bydrae beskou kan word om die skuldprobleem op te los.
“Sover dit die kredietverleners aanbetref, insluitend die banke, moet dit benadruk word dat hulle ook ‘n verantwoordelikheid het om nie toe te laat dat slegte skuld sodanig groei dat dit die ekonomie beskadig nie.
“Mense in skuld is weerbaar en ons moet hulle beskerm. Dit beteken ook dat daar daadwerklike stappe geneem moet word om te verhinder dat bates onder markwaarde in eksekusie-veilings verkoop word wat ‘n skuldenaar los met geen bates nie, maar wel oorblywende skuld.
“Dit is ‘n praktyk wat gereeld plaasvind en die VF Plus sal poog om deur middel van die wysigingswetsontwerp ‘n einde daaraan te bring.
“Die VF Plus sal daarom in die wetgewende proses in die komitee deelneem om seker te maak daar sal ‘n gebalanseerde benadering gevolg word tussen kredietgewers en –leners,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403