Die VF Plus is met rede bekommerd oor die uiters kwesbare toestand van die Witbank- en Doornpoort-kragnetwerk.
Ten spyte van die kritieke aard van die situasie en herhaalde navrae aan die munisipale bestuurder van die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit, mnr. Sizwe Mayisela, vir dringende optrede en duidelikheid, is daar tot dusver geen bevredigende terugvoer of plan van aksie ontvang nie.
Die kragnetwerk funksioneer tans sonder enige veiligheidsbuffer weens die volgende faktore:
• Enkeltoevoer: Die Vulcan-oordragstasie is tans die enigste bron van krag. Rand Carbide en Doornpoort word deur ’n enkele toevoerlyn bedien, wat ’n gevaarlike enkelpunt-van-mislukking skep.
• Geen rugsteun: Weens foutiewe lyne tussen Rand Carbide en Churchill, sowel as tussen KwaGuqa en Churchill, is die ringtoevoer onderbreek. Churchill kan dus nie as rugsteun dien indien die hooflyn sou faal nie.
Hierdie tegniese risiko’s is reeds volledig onder die aandag van die munisipale bestuurder gebring.
Dringende vrae oor die stabiliteit van die netwerk en die herstel van die Churchill-lyne is uitgelig, maar sonder enige suksesvolle of konstruktiewe reaksie.
Dit is onaanvaarbaar dat die gemeenskap aan hierdie ernstige risiko blootgestel word sonder onmiddellike ingryping deur die topbestuur.
Met die weerstoestande en donderstorms is die gevaar van weerligskade aan die Vulcan-lyn uiters groot.
Indien hierdie enkele toevoerlyn sou faal, sal die hele gebied (Witbank en Doornpoort) sonder krag wees, met geen moontlikheid om toevoer vanaf Churchill te herstel nie.
Die stelsel is tans uiters kwesbaar. Die herstel van die Churchill-lyne is noodsaaklik en moet dringend geprioritiseer word voor die stormweer .
Die gebrek aan kommunikasie vanaf die munisipale bestuurder verhoog slegs die onsekerheid en frustrasie van inwoners wat reeds onder onbetroubare kragvoorsiening gebuk gaan.


