Gemeenskapslede van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit in die Noord-Kaap het vandag ‘n griefskrif met ernstige bewerings van korrupsie, wanadministrasie en grootskaalse diensleweringmislukkings by die munisipaliteit, aan die VF Plus oorhandig.
Theo Joubert, die party se LPW in die Noord-Kaap en voorsitter van die staande komitee oor samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (COGHSTA) in die wetgewer, het dit van die Valspan Communal Interest Group in ontvangs geneem.
Die VF Plus het ook op versoek van die inwoners van Valspan en omliggende gemeenskappe ‘n vreedsame protesaksie oor die aangeleentheid by die munisipale kantore in Jan Kempdorp, bygewoon.
Die griewe sluit in ‘n betaling van R1,7 miljoen vir beweerde minimale werk aan die Felu-rioleringsaanleg asook onvoltooide projekte soos die Jan Kempdorp-begraafplaastoilette. Vir laasgenoemde is meer as R200 000 betaal sonder dat dienste gelewer is.
Die griefskrif verwys verder na ernstige tekortkominge in waterinfrastruktuur, padwerke en munisipale batebestuur.
Dit is kommerwekkend dat beide die kantoor van die Noord-Kaapse premier en die LUR vir COGHSTA wat vooraf per e-pos genooi is om die memorandum te ontvang, geen reaksie getoon het nie. Dit ondanks ernstige bewerings van moontlike omkopery, onverklaarbare afwykings van verkrygingsprosesse en ’n totale ineenstorting van batebeheer.
Met ontvangs van die memorandum het die VF Plus die gemeenskap geloof vir die ordelike wyse waarop hulle hul grondwetlike reg tot protes uitgeoefen het. Die griefskrif sal aan die betrokke uitvoerende owerhede oorhandig word en die staande komitee sal sy grondwetlike toesigrol uitoefen om seker te maak die bewerings word behoorlik ondersoek.
Die burgemeester van Phokwane, mnr. Willem Harmse, het intussen onderneem om binne sewe dae formeel te reageer. Die VF Plus sal toesien dat hierdie onderneming tot werklike aanspreeklikheid lei.
Die VF Plus bly daartoe verbind om korrupsie bloot te lê, wanadministrasie te beveg en die belange van gemeenskappe teen munisipale wanbestuur te beskerm.


