Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gryp in by verkeerschaos by Amandasig Secondary School in Pretoria

Die VF Plus het die Tshwane-metropolisie (TMPD) vandag versoek om dringend in te gryp by die Amandasig Secondary School in Pretoria-Noord, waar ernstige verkeersprobleme die veiligheid van meer as ‘n duisend skoolkinders bedreig.

Die VF Plus het Donderdag die skool besoek om die chaos ná die skoolklok self waar te neem.

Een van die groot bydraende faktore tot die verkeerschaos is die feit dat die Amandasig Secondary School en die aangrensende Railway Secondary School van dieselfde hek op die Britspad gebruik maak.

Tientalle motors, taxi’s en busse wag daar op kinders, maar weens beperkte parkering word voertuie op die skouer van die pad of selfs in een van die twee verkeersbane
geparkeer.

Hierdie gevaarlike situasie het reeds tot ’n ongeluk gelei waar ’n kind verlede jaar beseer is toe hy deur ’n motor raakgery is.

Ouers het hul kommer teenoor die VF Plus uitgespreek en daarop aangedring dat padtekens aangebring word en dat die TMPD onmiddellik ingryp om die verkeer te reguleer om die kinders se veiligheid te verseker.

Die Britspad is ’n belangrike verbindingsroete tussen Pretoria, Rosslyn en Brits en dra ’n groot hoeveelheid verkeer, insluitend vragmotors. Dit maak die gevaar vir skoolkinders nog groter.

Die VF Plus het reeds ’n brief aan die TMPD en Gauteng se verkeersveiligheidsafdeling gerig met die versoek om op te tree.

Die party sal die saak noukeurig dophou en druk hieroor op die TMPD plaas.

Verder sal die VF Plus ook voorstelle aan Gauteng se departement van paaie en vervoer maak om nie net die verkeer beter te reguleer nie, maar ook om ’n verkeerslig by die betrokke kruising aan te bring.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.