‘n Ondersoek van die VF Plus het aan die lig gebring dat die Rand West City-plaaslike munisipaliteit (Randfontein en Westonaria) nie die hoër winterkragtariewe wat Eskom aan die munisipaliteit faktureer, aan verbruikers deurgee nie.
Die munisipaliteit kan dit eenvoudig nie bekostig om daardie ekstra kostes self te dra nie en sal sy rekeningstelsel moet aanpas om daarvoor voorsiening te maak.
Volgens die VF Plus se ondersoek gebruik Eskom gedurende die wintermaande (Junie, Julie en Augustus) drie verskillende tariewe om kragverbruik aan die munisipaliteit te faktureer naamlik spits-, standaard- en buite-spits tariewe. Die munisipaliteit gebruik egter net een tarief om verbruikers te faktureer, wat beteken dat die hoër tariewe in die winter nie deurgegee word nie.
Hierdie onderverhaling veroorsaak dat die munisipaliteit miljoene rande verloor wat sy kontantvloei ernstig benadeel.
In Junie, Julie en Augustus beloop Eskom se rekening gemiddeld R140 miljoen per maand, terwyl dit in die res van die jaar sowat R70 miljoen per maand is.
Op aanbeveling van die VF Plus het die munisipaliteit ingestem om ’n komitee saam te stel wat die probleem dringend moet ondersoek.
Die party het reeds verskeie vergaderings met die burgemeester se adviseur, Chris Stoffels, asook die departement van finansies gehad om die bevindings voor te lê en te verduidelik.
Die VF Plus is van mening dat indien die komitee ’n oplossing vind, dit nie net verbruikers kan bevoordeel nie, maar ook die munisipaliteit in staat kan stel om sy skuld aan Eskom meer gereeld te betaal en uiteindelik beter diens aan inwoners te lewer.


