fbpx
Vryheidsfront Plus

Wetsontwerp oor Mediese Innovasie kan horisonne help verbreed

Die Mediese Innovasie-Wetsontwerp kan net daartoe bydrae om innoverende denke oor medisyne en genesing aan te wakker, paradigmaskuiwe oor die onderwerp aan te help en sodoende mediese horisonne te verbreed. Dit moet daarom verwelkom word,” sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts sê hy het voorheen in ‘n parlementêre debat die kwessie oor die gebrek aan mediese navorsing in sekere velde aangeraak, maar tot dusver is daar ligweg oor die onderwerp getrap aangesien dit enersyds ‘n taboe was en andersyds omdat daar nie werklik geldelike voordele daarin sou wees nie.

“In talle gevalle dui informele getuienis op die waarde van ‘n bepaalde remedie, maar omdat geen of min navorsing daaroor bestaan, word dit eenvoudig geïgnoreer, of nog erger as kwaksalwery afgemaak.

“Op hierdie wyse word mediese innovasie beperk en bly ons vasgevang in die paradigma voorgeskryf deur die groot farmaseutiese reuse van die wêreld. Daarmee word nie gesê dat die farmaseutiese bedryf nie mediese oplossings bied nie, maar dat hulle denkraamwerk nie alle wysheid in pag het nie.

“Ons moet dus ook dapper genoeg wees om deur daardie paradigmas te breek. Dis presies die pad wat die eertydse ontslape parlementslid Mario Oriani-Ambrosini vir ons voorberei het.

“Hierdie wetsontwerp gee geloofwaardigheid aan die mantra dat die 'afwesigheid van getuienis nie 'n bewys van afwesigheid is nie'.

“Wetenskaplik moet ons nie afgeskrik word deur regerings- en korporatiewe agendas oor watter navorsing uitgevoer moet word nie, veral as mense se lewenskwaliteit, en belangriker, hul lewe, op die spel is.

“Ons is dus van mening dat hierdie wetsontwerp ons 'n paar stappe vorentoe neem om mediese navorsing te fasiliteer wat andersins nie sou plaasgevind het nie.

“Die wetsontwerp bevestig ook die outonomiteit van die individu om self te besluit watter medisinale ingrypings hy of sy wil toelaat, veral as dit gaan oor pynbehandeling en die moontlikheid om ‘n mens se lewe te red. Hiervoor is ons dank verskuldig aan Oriani-Ambrosini,” sê adv. Alberts.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.