Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wes-Rand-distriksmunisipaliteit moet herbesin oor verbindingspad

Die Wes-Rand-distrikmunisipaliteit sal dringend moet herbesin oor die voltooiing van ʼn teerpad van twaalf kilometer vanaf die mislukte Montrose-behuisingsprojek in Randfontein na die R28.

Die bou van dié pad, wat in Februarie verlede jaar teen ʼn aanvanklike koste van R108 miljoen begin is, het vanuit die staanspoor skeefgeloop.

Kort nadat die eerste kilometer van die pad voltooi is, het die kontrakteur besef die pad is nie op die plek gebou soos die plan aandui nie. Die fout moes dringend teen ʼn bedrag van sowat R2 miljoen reggestel word.

Tydens ʼn raadsvergadering van die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit in September, is aangedui dat die totale koste vir die bou van die pad nou R142 miljoen gaan beloop.

Die VF Plus het ʼn verslag aangevra om vas te stel waarom die koste so vinnig vermeerder het. Die munisipaliteit het reeds R62 miljoen aan die kontrakteur oorbetaal.

Die party wil ook weet waarom daar met die bou van die pad voortgegaan word aangesien bouwerk aan die berugte Montrose-behuisingskema tot stilstand gekom het.

Bouwerk by Montrose het tot dakhoogte gevorder waarna dit gestaak is. Intussen word die 13 000 halfgeboude woonstelle gestroop deur groepe mense wat daagliks stene en staal verwyder.

Volgens die VF Plus is daar dus geen rede waarom die verbindingspad vanaf Montrose na die R28 voort moet gaan nie.

Hierdie is net nog ʼn voorbeeld van verkeerde prioriteite en die wanaanwending van belastinggeld.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.