Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Werkloosheid: Geen draaipunt in sig

Die jongste werkloosheidskoers vir die tweede kwartaal van 2021 wat Statistiek Suid-Afrika vandag bekend gemaak het, weerspieël soos verwag ‘n voortslepende bloedbad van werksverliese in die land. Die werkloosheidskoers het nou tot 34,4% gestyg en is die hoogste sedert die aanvang van die peiling in 2008.

‘n Styging was te wagte inaggenome die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings wat tot die verlies van verskeie werksgeleenthede gelei het, maar selfs met die verslapping van hierdie inperkings hou die werkloosheidskoers aan met styg en sien ons nie dieselfde mate van herstel in die arbeidsmark as in die res van die ekonomie nie.

Jeugwerkloosheid en die uitgebreide werkloosheidskoers wat ontmoedigde werksoekers insluit wat tot 44,4% gestyg het met 3,4 miljoen vergeleke dieselfde tydperk in die vorige jaar, is veral kommerwekkend.

Sowat 64,4% van die jeug tussen die ouderdomme van 15 en 24, is werkloos en 33% of 3,3 miljoen van hierdie ouderdomsgroep is in geen vorm van onderrig of opleiding nie. Jeug tussen die ouderdomme van 25 en 34 se werkloosheidskoers is 42,9%.

Die feit dat werkloosheid onder die jeug so geweldig styg, dui op ‘n sistemiese probleem wat bloot tot verdere en volgehoue werkloosheid sal lei.

Daar is verskeie faktore wat aanleiding gee tot die volgehoue styging in die werkloosheidskoers, waarvan die Covid-19-pandemie maar een is.

Die werklike kernoorsake sluit in een van die swakste onderwysstelsels in die wêreld, verkeerde ekonomiese prioriteite, swak politieke leierskap en die totale mislukking van die regering om die privaatsektor, as die grootste werkskepper in die land, te bemagtig om die arbeidsmark te stimuleer.

Die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal sal bydra tot die stygende werkloosheidskoers wat na afloop van die derde kwartaal waarskynlik nog hoër sal wees.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.