Inwoners van Garies is ontevrede daaroor dat afdakke vir personeel en raadslede se persoonlike voertuie by die munisipale kantore opgerig word terwyl Garies se paaie verbrokkel.
Die VF Plus beskou dit as 'n geval van misplaaste prioriteite.
Riool word boonop jare reeds gestort in die Groenrivier wat deur die dorp loop omdat fondse om die stelsel op te gradeer, ontbreek.
Volgens die munisipaliteit is dit ook een van die redes vir die dorp se swak paaie.
Terwyl die rioolaanleg en paaie dus dringend herstel moet word, word afdakke gebou wat slegs tot voordeel van senior personeellede en raadslede van Kamiesberg se plaaslike munisipaliteit is.
Verder is die werk wat wel aan die rioolaanleg gedoen word, nie 'n sukses nie, aangesien riool steeds in die Groenrivier gestort word.
Die netjiese werk wat aan die voertuigafdakke gedoen word, skep die indruk dat die munisipaliteit wel die tegniese vermoë het wat mens sou verwag. Die gevolgtrekking is dat sowel die vermoë as die fondse beskikbaar is om dienslewering aan die hele gemeenskap te verbeter, maar die wil nie bestaan nie.
Die gebrek aan ywer word bevestig deurdat vullisverwydering nie meer plaasvind nie, dat opgradering van die afvalterrein nie voltooi is nie en dat water dikwels nie beskikbaar is nie. In al hierdie opsigte moet inwoners self planne maak soos die installasie van watertenks en drukpompe of eenvoudig die dienste ontbeer.
Inwoners van Kamiesberg het met die plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om met die VF Plus op te staan en saam te staan om dienslewering te verbeter.