Suid-Afrika se val op die jongste verslag van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) versterk die indruk dat die ANC besmet is met ‘n ernstige siekte aangesien daar net mislukking is in elke faset van die samelewing waar die ANC-regering inspraak het of inmeng, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê dit is ontmoedigend om te sien dat Suid-Afrika met rasse skrede agteruit boer op die WEF se ranglys en met veertien plekke geval het. Die land is tans op die 61ste plek uit 137 lande.
Hy sê dit is ook insiggewend dat die WEF nie doekies omdraai nie en dit uitspel dat korrupsie, misdaad, diefstal, die onstabiliteit van die regering, hoë belasting, burokratiese rompslomp en ‘n swak werksetiek in die arbeidsmag die redes vir Suid-Afrika se ekonomiese kreeftegang is.
“Meer kommerwekkend is die feit dat basiese onderwys en gesondheid, waar die grootste deel van die land se begroting veral aan onderwys bestee word, as feitlik van die swakte in die wêreld gereken word en op nommer 121 uit die 137 lande geplaas word.
“Wat gesondheid aanbetref is dit algemeen bekend dat daar ‘n chroniese tekort aan medisyne en goeie praktisyns is, en die meeste staatshospitale herinner eerder aan slagpale as aan hospitale.
“Die enigste fasette waar Suid-Afrika wel vooruitgang toon, soos die grootte, gesofistikeerdheid en innovasie van die sake-omgewing, is die dele waar die privaatsektor die bydraes lewer en presteer ten spyte van die ANC-regering se swak beleid en gedurige inmenging.
“Die feit dat Rwanda, ‘n Afrika-land wat enkele jare voor Suid-Afrika se oorgang na demokrasie in ‘n burgeroorlog vernietig is, Suid-Afrika op die ranglys verby gesteek het, is ‘n goeie aanduiding van hoe sleg die ANC die land bestuur.
“Dit is duidelik dat die tyd lank reeds aangebreek het vir ‘n beter regering,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


