fbpx
Vryheidsfront Plus

Weerstand onder belastingbetalers sal toeneem om geld aan korrupte ANC-regering te gee

Namate korrupsie en onbevoegdheid in die ANC-regering toeneem, sal belastingbetalers se weerstand om hul swaar verdiende geld aan ‘n ondoeltreffende regering af te staan dienooreenkomstig toeneem, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts het vandag met die Tweede Lesingsdebat oor die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste gesê wêreldgebeure soos Brexit en die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president is twee globale makroskuiwe wat ook van belang is vir Suid-Afrika.

Hy sê dit dui daarop dat ‘n liberale- en progressiewe leiers-elite uit voeling geraak het met die gewone man op straat.

“Teen hierdie agtergrond is die verdeling van inkomste ‘n sinvolle metafoor vir die verdelings in ons land. Al hoe meer belastingbetalers bevraagteken die morele verpligting om belasting te betaal.

“Belasting word ingevorder op ‘n aggressiewe wyse, maar word verdeel onder korrupte owerhede wat nie dienste kan lewer nie. Almal word geraak, maar die armstes onder ons die meeste.

“Beide die belastingbetalers en die armes ervaar al hoe meer die groeiende afstand tussen hulle en die regerende elite aan hul sakke en lywe.

“In hierdie opsig is groot seismiese verskuiwings aan die gang. Aan die een kant probeer belastingbetalers, swart en wit, al hoe meer om belasting te vermy en aan die ander kant vra die armes waarom hulle enigsins moet hoop op ‘n beter lewe.

“Beide die tendense bearbei Suid-Afrika vir ‘n rewolusionêre omgewing. Daar is natuurlik sekere mense wat graag ‘n rewolusie wil sien. Die meeste Suid-Afrikaners is egter verdraagsaam teenoor mekaar en smeek om ‘n toekoms waar daar ‘n beter lewe en plek vir almal is.

“Die regering sal ernstig moet kennis neem van tipiese vrae wat deur belastingbetalers en armes gevra word:

Moet ek belasting betaal aan ‘n regering waar korrupsie endemies geword het?

Moet ek belasting betaal as die regering my nie op my plaas of in die stad kan beskerm nie?

Moet ek belasting betaal as die regering nie sy welsynsverpligtinge teenoor die armes kan nakom nie?

Moet ek belasting betaal as dit die regering se hand sterk om my eiendom sonder vergoeding te onteien?

Sal ek ooit ‘n beter lewe sonder armoede sien?

Sal ek ooit veilig wees teen moord en misdaad selfs al is ek arm?

“Die fundamentele vraag hier is of dit nodig is om die wet te gehoorsaam as die president self dit willens en wetens nie doen nie soos sy aanvanklike verontagsaming van die Openbare Beskermer se aanbevelings?

“Dit is duidelik dat daar ‘n snel groeiende afstand tussen die regering en die gewone mense van hierdie land ontstaan,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.