Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Weermaghoof se Iran-besoek wys ANC hou hom blind vir land se probleme wat hy self veroorsaak

Indien dit só is dat groepe wat die nasionale dialoog boikot die mense van Suid-Afrika ook boikot, is die optrede van iemand soos die land se weermaghoof met sy besoek aan Iran, niks anders nie as sabotasie van Suid-Afrika en sy mense.

Terwyl die presidensie in ‘n verklaring sterk uitvaar teen diegene wat nie bereid is om saam met die ANC aan ‘n nasionale dialoog deel te neem nie, keer die weermaghoof, genl. Rudzani Maphwanya, pas terug van ‘n besoek aan Iran waar hy glo “militêre en strategiese bande” tussen Iran en Suid-Afrika bevorder het.

Dit skaars ses weke nadat Amerika drie Iranse kernaanlegte gebombardeer het. Genl. Maphwanya se optrede was ‘n roekelose stap wat die verhoudinge tussen Suid-Afrika en Amerika net verder kan vertroebel.

Indien president Cyril Ramaphosa nie van hierdie besoek bewus was of dit nie goedgekeur het nie soos hy sê, dui dit op ’n ernstige gebrek aan beheer oor die weermag se leierskap en skep dit opsigself ‘n ernstige interne krisis.

So ’n oortreding regverdig onmiddellike tugmaatreëls, soos gesien in die afdanking van adjunkminister Andrew Whitfield vir ’n soortgelyke ongeoorloofde internasionale reis.

Die ANC se oproep vir ’n nasionale dialoog om Suid-Afrika se krisisse aan te spreek, staan in skreiende teenstelling met sulke onverantwoordelike optrede.

Dit skep ‘n beeld van totale onbeholpenheid. Vir die president en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) om nou hul ontsteltenis uit te spreek, is te laat. Die skade op internasionale vlak is reeds gedoen.

Dit wys ’n duidelike onvermoë om die oorsake van die land se probleme te erken, laat staan nog om oplossings te vind. Die VF Plus weier om aan ’n dialoog deel te neem wat deur ’n party met sulke dubbelsinnige optrede gelei word.

Die VF Plus kan beswaarlik aan ‘n erger belediging aan Amerika dink, en dit te midde van politieke gesprekke om ‘n oplossing te probeer vind vir die handelskrisis tussen die lande.

Suid-Afrika verdien leierskap en gesprekvoering wat die land se belange eerste stel, nie optredes wat internasionale spanning vererger en ekonomiese stabiliteit ondermyn nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.