Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Opvolgbesoek aan Postmasburg wys dat rioolramp steeds voortwoed

ʼn Oorsigbesoek van die VF Plus aan Postmasburg het gewys dat die rioolramp op dié dorp steeds voortwoed ongeag die twee direktiewe wat die nasionale departement van water en sanitasie in 2019 en 2022 aan die Tsantsabane-plaaslike munisipaliteit uitgereik het om die besoedeling te staak.

Ten spyte van hierdie direktiewe het die situasie sedertdien verswak. In verskeie woonbuurte is rou riool steeds sigbaar, met ’n ondraaglike stank en ’n duidelike gesondheidsrisiko vir inwoners, veral kinders en bejaardes. Die besoek het bevestig dat sommige van die pompstasies buite werking is en dat kritieke infrastruktuur ernstig verwaarloos word.

Die 2022-direktief het onder meer verwys na ’n geval waar E-coli in die longe van Leoni Oosthuizen se eenjarige kind gevind is. Dit is ’n ontstellende bewys van die ernstige gesondheidsgevare wat die voortgesette rioolbesoedeling inhou. Die munisipaliteit se versuim om basiese dienste te lewer en infrastruktuur in stand te hou stel mense se gesondheid en lewens in gevaar. Daarbenewens word die waarde van eiendomme reeds negatief geraak, wat tot skadevergoedingseise teen die munisipaliteit kan lei.

In reaksie op die VF Plus se formele klag vroeër vanjaar, het die Groen Skerpioene bevestig dat hulle met ‘n ondersoek na moontlike oortredings van die Nasionale Omgewingsbestuurswet en ander relevante omgewingswetgewing besig is. Hierdie ondersoek kan tot strafregtelike vervolging van die verantwoordelike amptenare en die munisipaliteit self lei.

Die VF Plus se klag het gevolg op die neem van watermonsters en ontleding daarvan by ʼn onafhanklike laboratorium. Dié ontleding het onaanvaarbare besoedelingsvlakke getoon.

Volgehoue minagting van nasionale wetgewing, omgewingsbeskerming en die grondwetlike reg op ’n gesonde leef omgewing is onaanvaarbaar.

Dit is duidelik dat die Tsantsabane-plaaslike munisipaliteit beide die 2019 en 2022-direktiewe steeds ignoreer. Dit laat min twyfel dat sterk maatreëls nou noodsaaklik is wat sal verseker dat die munisipaliteit aan die minimum standaarde voldoen en besoedelde areas rehabiliteer.

Die VF Plus doen ’n beroep op die departement van water en sanitasie om onmiddellik teen die munisipaliteit op te tree en die Groen Skerpioene se ondersoek met alle nodige dokumentasie en bewyse te ondersteun.

Die tyd vir verskonings is verby, inwoners van Postmasburg verdien ’n skoon, veilige en waardige leef omgewing.

Die VF Plus sal die saak na die Noord-Kaapse wetgewer neem en volgehoue druk uitoefen totdat die probleem finaal opgelos is en die skuldiges aanspreeklik gehou word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.