Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kabeldiefstal ruk hande uit omdat Lekwa-munisipaliteit versuim om op te tree

Ten spyte van verskeie pogings om die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton, Morgenzon) sover te kry om daadwerklik op te tree teen gereelde kabeldiefstal, het dié munisipaliteit nog nie ‘n vinger gelig nie.

Dit volg nadat daar op 9 Julie kragkabels uit die grond gesteel is by die River Park-karavaanpark. Die party het dit sedertdien by verskeie geleenthede aangemeld en die munisipaliteit versoek om dringend in te gryp.

Hiervan het niks gekom nie.

Indien hierdie tendens nie stopgesit word nie, staar net meer kragonderbrekings, veiligheidsrisiko’s en ’n totale ineenstorting van basiese dienslewering inwoners in die gesig.

Boonop skuif die munisipaliteit die verantwoordelikheid om kabeldiefstal aan te meld by die polisie, na inwoners.

Dit plaas nie net ’n onregverdige las op slagoffers nie, maar veroorsaak dat hierdie misdaad nie in die amptelike misdaadstatistiek weerspieël word nie.

Dit lei daartoe dat die munisipaliteit aanspreeklikheid vermy terwyl die probleem vererger.

Die gebrek aan behoorlike saakregistrasies het ook ’n direkte impak op munisipale befondsing, veral onder die geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram wat gegrond is op akkurate verslagdoening en bewese behoefte.

Die wetlike- en verslagdoeningsverantwoordelikheid rus by die munisipaliteit, nie by inwoners wat reeds verlies ly nie.

In 2024 het die raad ’n besluit geneem dat strafregtelike sake vir elke voorval van kabeldiefstal geopen moet word en dat kwartaallikse verslae daaroor aan die raad voorgelê moet word.

Tot op hede is nie ‘n enkele verslag ontvang nie, ten spyte van herhaalde versoeke.

Volgens die polisie is kabeldiefstal nie ’n misdaad is wat spesiale aandag vereis in Standerton nie. Dit is totaal anders as hoe inwoners die situasie ervaar.

Die impak strek verder as net dienslewering. Vandalisme in openbare ruimtes soos River Park tas Standerton se beeld aan en benadeel enige kans op groei in toerisme of beleggings. Infrastruktuur word vernietig en inwoners moet die las dra.

Lekwa-munisipaliteit moet sy wetlike verpligtinge nakom: Strafregtelike sake moet geopen word en behoorlike rapportering en daadwerklike stappe moet geneem word om munisipale infrastruktuur te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.