Terwyl daar geen keer is aan die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) nie, word geld steeds op groot skaal verkwis.
Uit ʼn parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus aan die minister van verdediging en militêre veterane, Thandi Modise, blyk dit dat die amptelike woning van die weermaghoof in Waterkloof reeds sedert 30 November 2021 leeg staan.
Net die dienstegelde vir die afgelope 28 maande, wat water, krag en sanitasie insluit, beloop R251 128. Die huis, op die hoek van Edward- en Rosestraat, word steeds bewaak deur militêre personeel.
Volgens die minister moet daar opknappingswerk aan die eiendom gedoen word en “weens die hoë koste van instandhouding en herstelwerk” daaraan verbonde, sal dit eers in die nuwe finansiële jaar aangepak word.
Ek gaan in ʼn opvolgvraag aan die minister vra wat die omvang van die herstelwerk aan die huis behels, hoe die skade veroorsaak is en wat dit gaan kos om te herstel.
Indien in ag geneem word dat die skade so groot is dat die huis reeds vir 28 maande onbewoonbaar is, moet die vraag gevra word of die vorige hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, die huis dan gevandaliseer het.
Inligting wat die departement van verdediging se interne ouditkomitee vroeër vanjaar aan die parlementêre portefeuljekomitee vir verdediging voorgelê het, wys op die skokkende omvang van geldvermorsing in die weermag.
Volgens die komitee is R430 miljoen in die vorige boekjaar verkwis waarvan net R800 verhaal is. Dit is slegs 0,002%.
Onreëlmatige uitgawes het R15,98 miljard beloop waarvan net R76 000 verhaal is. Meer as R3 miljoen is vir persele betaal waarvan die huurkontrakte lank reeds verstryk het.
Onthullende bewerings aangaande die vorige speaker van die NV en minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, wys hoe miljoene rande gevloei het tussen weermagkontrakteurs en persone wat glo omgekoop is.
Die weermag se deurlopende verskoning vir sy agteruitgang is dat hy te min geld ontvang met sy begroting.
Die geldtekort is só erg dat daar nie eens behoorlike lugsteun aan Suid-Afrika se soldate in Afrika gegee kan word nie. Dit kos reeds R2,5 miljard net om die soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) te ontplooi.
Die SANW se basisse landwyd het só verval dat dit na raming R8 miljard sal kos om te herstel.
Verlede jaar is R220 miljoen bestee aan ’n weermagviering in Richardsbaai terwyl die lugmag net twee diensbare eerstelinie-vegvliegtuie en een fregat tot sy beskikking gehad het.
Die logistieke vleuel het met die vieringe nie eens geld gehad vir diesel om die leër se orkes te vervoer nie. Luidens mediaberigte moes orkeslede uit hul eie sakke betaal om van Kaapstad na Richardsbaai te reis.
Daarbenewens gaan die SANW gebuk onder ’n topstruktuur van sowat 400 generaals wat enorme salarisse verdien. Dit is een generaal vir elke 184 ander persone in die weermag. Daar moet dringend gesnoei word aan dié topbestuur.
Tydens die Covid-19-pandemie is meer as R30 miljoen vermors op entstof wat nie gebruik kon word nie.
Dit was nogtans steeds min vergeleke met ongerymdhede rondom Covid-19-verkrygingsprosesse van kwarantyngeriewe en beskermende toerusting waar honderde miljoene rande verkwis en gesteel is.
Alles in ag genome is die grootste verlies dié van ʼn beskikbare parate, professionele en gedissiplineerde weermag. Die totale SANW het veral soos die huis in Waterkloof.
Daar kan nie van die belastingbetaler verwag word om langer hiervoor op te dok nie.