Die omstrede Brickvale-behuisingsontwikkeling in Tarlton in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit is nog ʼn sprekende voorverkiesingsbelofte van die ANC wat misluk het met inwoners wat die spit afbyt.
Dié projek was met sy aanvang voor die 2021-verkiesing deurspek met korrupsie en wanbestuur.
Die VF Plus lê die probleme met die ontwikkeling vierkantig voor die deur van die ANC in Mogale City en die Gautengse departement van menslike ontwikkeling.
Inwoners van Tarlton buite Krugersdorp word daagliks gekonfronteer met die reuk van riool vanaf die Brickvale-behuisingskompleks.
Die elektriese pomp wat Brickvale se riool 16km ver na die Percy Steward-rioolsuiweringsaanleg moet pomp, is buite werking en indien dit wel herstel word, word die elektriese komponente gesteel.
Riool word tans herlei na ʼn reuse gat wat nie net aanleiding gee tot ʼn onaangename reuk nie, maar ook ʼn gevaar vir inwoners en veral kinders inhou wat in die omgewing speel.
Brickvale is boonop op dolomietiese grond gebou en die rioolgat kan binnekort tot ʼn sinkgat lei.
Daar is ook nagelaat om die grond te hersoneer van landbou-doeleindes na ʼn dorpsontwikkeling.
Bewoningsertifikate kan nie uitgereik word nie aangesien die vereiste SANC 10400-bouregulasies rondom dorpsontwikkeling nie gevolg is nie en ʼn wesenlike brandgevaar bestaan weens die feit dat wooneenhede nader as die vereiste afstand van mekaar gebou is.
Die interne water- en sanitasie-netwerk is nie voldoende nie en daar is ook nie rekening gehou met die reeds beperkte kapasiteit van die Percy Steward-rioolwerke nie.
Die VF Plus het reeds vrae gerig aan die LUR vir menslike nedersettings, Lebogang Maile, rakende die aankoopbedrag van die eiendom. Die bedrag was R64 miljoen terwyl die munisipale waardasie R2,6 miljoen was ten tyde van die transaksie.
Die VF Plus sal ook ʼn klag oor dié ontwikkeling en die gevaar wat dit vir inwoners inhou, by die menseregtekommissie (MRK) indien en die openbare beskermer (OB) versoek om dit te ondersoek.
Op 29 Mei moet kiesers van die ANC in Gauteng ontslae raak en vervang met ʼn bevoegde koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons Gauteng en sy munisipaliteit herstel en bou.