Die versuim van die Dr. Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit om volhoubaar water aan inwoners te lewer, is kommerwekkend en onaanvaarbaar.
Verskeie dorpe, insluitend Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, Jansenville, Aberdeen, Klipplaat, Steytlerville en Willowmore, word daagliks geraak deur swak waterlewering.
Dié dorpe verkry hul water vanuit boorgate, maar weens die munisipaliteit se swak instandhouding van boorgatpompe en pypleidings sit inwoners gereeld met droё krane.
Inwoners het ‘n grondwetlike reg op veilige en voldoende water en plaaslike owerhede is ingevolge uitgebreide wetgewing verplig om hieraan te voldoen.
Herhaalde uitsprake deur die munisipale bestuurder, dr. Eddie Rankawana, maak dit duidelik dat die munisipaliteit nie in staat is om aan hierdie basiese, wetlike vereiste te voldoen nie.
Die realiteit is dat die waterprobleem ‘n wesenlike gevaar inhou vir inwoners se gesondheid en hul lewenskwaliteit benadeel.
Die VF Plus het die munisipaliteit versoek om dringend aan die krisis aandag te skenk en om te reageer met ‘n geskrewe aksieplan oor hoe om dit so spoedig moontlik op te los.
Inwoners het die reg om te weet wat gedoen gaan word om die waterkrisis op te los en die VF Plus sal toesien dat hul reg op kwaliteit water en volhoubare watervoorsiening beskerm word.