Die VF Plus het teen die 2020/21-begroting van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Welverdiend, Wedela) gestem.
Die uitermatige water- en kragverliese in die Merafong-munisipaliteit die afgelope jaar, is kommerwekkend en kan nie langer toegelaat word nie.
Die verliese, onderskeidelik 43% en 41,6%, is suiwer die gevolg van onwettige kragaansluitings, elektriese bokse wat oorbrug word en die gebrek aan instandhouding van die water- en elektrisiteitsnetwerk. Huishoudings in die Merafong-munisipaliteit is soms vir dae sonder elektrisiteit en water.
Tydens die finansiële begroting vir die 2020/21-boekjaar, is die volgende tariefverhogings goedgekeur:
Elektrisiteit: 6,22%
Water: 6,2%
Eiendomsbelasting: 3,68%
Sanitasie: 6%
Vullisverwydering:6,5%
Die VF Plus bevraagteken die invorderingskoers van dienstegeld en aangestelde diensverskaffers sal meer moet doen om die proses te laat slaag.
Die Merafong-munisipaliteit kan nie die munisipaliteit se swak finansiële vooruitsigte net op die skouers van die Covid-19-pandemie plaas nie. Die munisipaliteit was reeds voor die uitbreek van die pandemie in finansiële moeilikheid.
Getroue belastingbetalers mag nie benadeel word deur ‘n munisipaliteit wat nie eens basiese dienste kan lewer nie.
Die VF Plus sal aanhou om die munisipaliteit verantwoordbaar te hou vir gebrekkige infrastruktuur, wanbestuur en swak finansiële besluite.
Navrae: 082 671 2302