fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwerp begroting van Newcastle-munisipaliteit

Die Vryheidsfront Plus in die Newcastle-plaaslike munisipaliteit het teen die munisipaliteit se begroting vir 2020/21 gestem omdat uitgawes verminder en inkomste vergroot moet word om vir die begrote bedryfstekort van R401,8 miljoen te vergoed wat weens die Covid-19-pandemie ontstaan het.

Die voorgestelde begroting is ook deur die KwaZulu-Natalse departement vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta) verwerp omdat die munisipaliteit ‘n onbefondsde begroting het. Die VF Plus het dit die afgelope paar jaar telkens uitgewys en die begrotings verwerp aangesien daar geen poging van ANC-kant was om dit reg te stel nie.

Die groot kommer is dat die huidige bates/laste-verhouding 0,85:1 is en meer as 1,5:1 moet wees vir die begroting om te kwalifiseer as befonds. Dit beteken die begroting, soos dit tans lyk, is nie befonds nie.

Die groei en ontwikkeling van Newcastle is grootliks afhanklik van toekomstige ekonomiese groei en ontwikkeling, maar met die werkloosheidskoers van 31,8%, moet daar dringend iets gedoen word om die situasie aan te spreek. In hierdie verband moet daar gekyk word na die skepping of instandhouding van plaaslike bedrywe om werksgeleenthede te skep. Die Drakensberg Distillery, wat reeds gebou en gereed is vir produksie, kan byvoorbeeld nie in bedryf gestel word nie weens ‘n gebrek aan aanvangskapitaal.

Die voortdurende waterverliese aan die oostekant van Newcastle, wat tussen 40- en 46% van die totale watertoevoer van Uthukela Water beloop, is baie kommerwekkend. Daar moet dringend opgetree word om die waterverliese tot 18% te verminder, wat die nasionale norm is.

Die likiditeit van Newcastle se begroting was die afgelope paar jaar onder druk. Die voorgestelde begrotingsposisie sal weer onder groot druk wees veral in ag genome die invloed wat die Covid-19-pandemie gaan hê op die toekomstige betalings vir dienste deur verbruikers. Daar word verwag dat werkloosheid gaan toeneem en dat inkomste uit die gebruik van elektrisiteit en dienste dienooreenkomstig gaan afneem.

Die VF Plus is ook bekommerd oor die stygende Eskom-rekening wat die afgelope drie jaar geëskaleer het ondanks herbetalingsooreenkomste wat by verskeie geleenthede deur die munisipaliteit en Eskom onderhandel is. Selfs ná ‘n hofbevel het die munisipaliteit nog nie die agterstallige bedrag aan Eskom verminder nie.

Die VF Plus kan met inagneming van bogenoemde kwessies, nie die munisipaliteit se 2020/21-begroting steun nie en versoek dat ernstige aanpassings gemaak word om voorsiening te maak vir die nodige besparing op uitgawes en die verwagte daling aan inkomste.

Navrae: ‪082 388 3000‬

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.