Die Valke se optrede rondom die minister van finansies, Pravin Gordhan, laat rooi ligte flikker en stuur ‘n duidelike boodskap dat wat met Gordhan gebeur, kan met enigiemand gebeur, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre minister oor finansies.
Adv. Alberts sê die geveg wat tans aan die gang is tussen Gordhan en die tesourie aan die een kant en Zuma en sy span aan die ander kant asook die ekonomiese implikasies van die stryd, verbloem ‘n belangrike verdere implikasie rondom die wyse waarop die Valke te werk gaan.
Hy sê dit kom daarop neer dat dit wat met tans met Gordhan gebeur, met enige individu kan gebeur, maak nie saak hoe prominent of privaat die persoon is nie.
“Hierdie gevolgtrekking spruit uit die feit dat dit blyk dat die Valke geen werklike klag uit te maak het teen Gordhan nie, wat die vermoede bevestig dat die Valke gebruik word as ‘n instrument van intimidasie. Indien dit met die minister kan gebeur, kan dit met enige iemand gebeur, insluitende persone van belang soos fluitjieblasers en lede en openbare verteenwoordigers van opposisiepartye.
“Die Valke het drie klagtes teen Gordhan geformuleer in terme van die Openbare Finansiële Bestuurswet 1999, die Nasionale Strategiese Intelligensiewet 1994 en die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite 2004 (Prevention and Combating of Corrupt Activities Act).
“Wat die Openbare Finansiële Bestuurswet aanbetref, hoef ‘n mens nie eens na die feite te kyk nie, want die wet stel in die betrokke artikels waarna die Valke verwys, nie enige misdrywe daar nie.
“Dis ‘n geykte regsbeginsel, bekend as die legaliteitsbeginsel, dat ‘n persoon nie aangekla kan word vir ‘n misdryf wat nie duidelik in die gemenereg of statutêre reg bestaan en waarvan die elemente van die misdryf nie presies omskryf is nie.
“In hierdie geval is daar bloot geen misdryf insake waarvan Gordhan aangekla kan word nie en is die Valke se klag arbitrêr en dus ongrondwetlik. Daar bestaan wel misdrywe in die wetgewing ingevolge artikel 86, maar die Valke het geen saak uitgemaak in terme van daardie artikel van die wet nie.
“Wat die Nasionale Strategiese Intelligensiewet aanbetref, hoef daar ook nie eens na die feite gekyk te word nie, aangesien daar geen misdrywe deur die wet geskep word nie en verhinder die legaliteitsbeginsel dus ook dat Gordhan wettiglik aangekla kan word.
“Enige verbreking van hierdie wet stel geen misdryf daar nie. Die klag van die Valke is dus arbitrêr, ongrondwetlik en ‘n ongrondwetlike poging om ‘n misdryf te skep wat nie bestaan nie. Hiermee eien die Valke hom magte toe wat slegs in die wetgewende gesag gesetel is.
“Insake die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite word daar wel pertinente misdrywe geskep en is dit moontlik dat die wet dalk oortree is. Maar die Valke sal moet bewys dat Gordhan se gedrag voldoen aan die vereistes van die elemente van die misdryf soos in die wetgewing uiteengesit.
“In hierdie geval sal die Valke dus moet bewys dat Gordhan een of ander voordeel ontvang het ten einde hom te beweeg om ‘n skeidingspakket aan ‘n amptenaar, Ivan Pillay te gee en hom later weer aan te stel in die departement.
“Daar bestaan egter sover geen bewyse dat Gordhan dit sou gedoen het nie en indien dit wel bestaan, het die Valke dit nog 'n ie verklaar nie.
“Dieselfde argument geld indien die Valke sou argumenteer dat Gordhan die skeidingspakket en heraanstelling gereël het in ruil vir sekere voordele wat Pillay sou verskaf. Die Valke het nog nie verklaar dat hulle bewyse het dat Pillay enige voordele sou gegee of belowe het nie.
“Teen hierdie agtergrond lyk dit of die Valke met Gordhan wou vergader om enersyds moontlike erkennings by hom af te dwing om hul swak saak te sterk en andersyds om op hom te intimideer en van stryk af te bring sodat hy uiteindelik self bedank as minister van finansies.
“Die gevaar lê natuurlik daarin dat die Valke in die toekoms dieselfde taktiek van vals klagtes kan gebruik om enigiemand van belang te boelie. Die Grondwet is juis daar om sulke optrede te verhinder, maar dit stop duidelik nie Zuma se handlangers nie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403