Die provinsiale openingsrede van die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, was weereens ‘n herhaling van planne en projekte wat al voorheen aangekondig is, maar nie in die verlede gerealiseer het nie.
Baie min van hierdie projekte word aangepak aangesien die Vrystaat se finansiële krisis dit onuitvoerbaar maak en die regeringsdepartemente nie oor die nodige vermoë beskik om uitvoering aan planne te gee nie.
Die premier het weereens klem gelê op die Maluti-a-Phofung-spesiale ekonomiese sone. Hierdie spesiale ekonomiese sone het sover egter slegs 90 permanente werksgeleenthede geskep.
Die premier het die geleentheid gemis om drastiese kostebesparingsmaatreëls en herprioritisering aan te kondig.
Haar fokus was eerder op die staat se rol in werkskepping en beloftes om jeugwerkloosheid te bekamp met nagenoeg 32 250 werksgeleenthede deur middel van die uitgebreide openbare werkprogram (EPWP).
Die staat kan egter nie volhoubaar werk skep nie. Die staat moet die klimaat skep vir die privaatsektor om werksgeleenthede te skep om werkloosheid te bekamp.
Alhoewel die premier in haar provinsiale rede genoem het dat daar gefokus moet word op die omgewing en klimaatsverandering, behoort haar eerste prioriteit te wees besoedeling weens riool wat nie deur munisipaliteite bestuur word nie. Riool loop daagliks in riviere in.
Sy het geen konkrete plan bekend gemaak om die mislukking van Vrystaatse munisipaliteite aan te spreek nie en bloot genoem dat die LUR van samewerkende regering hierdie krisisse sal hanteer. Provinsiale intervensies in munisipaliteite in die provinsie faal egter.
Dit is onaanvaarbaar dat die premier geensins na landelike beveiliging verwys het nie.
Die Vrystaat het nie mooipraatjies en leë beloftes nodig nie, maar werkbare oplossings. Die VF Plus sal in die Vrystaatse wetgewer druk toepas dat konkrete planne deur die provinsiale regering geïmplementeer word.
Kontaknommer: 084 206 3375


