fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng-provinsiale rede: Die olifant in die kamer is onteiening sonder vergoeding

Premier David Makhura het vandag met sy Gautengse provinsiale rede talle planne die lig laat sien om die ekonomie, misdaad en maatskaplike kwessies aan te spreek, maar het uiteindelik gefaal om aan te dui watter stappe sy regering sal neem om die onsekerheid oor onteiening sonder vergoeding uit die weg te ruim.

Onteiening sonder vergoeding staan sentraal tot die vraag of Gauteng en die res van Suid-Afrika gaan misluk.

Alhoewel die provinsiale regering onder ANC-beheer nie nasionale beleid kan skep nie, kon die premier tog aangedui het wat sy regering gaan doen om die negatiewe effek daarvan te neutraliseer.

Die premier het voorheen wel duidelik standpunt ingeneem teen die nasionale regering rakende ‘n kwessie soos e-tol, maar het nie 'n woord gerep oor Gauteng se posisie rakende onteiening sonder vergoeding nie.

Hierdie beleidsvoorstel het reeds baie skade aangerig met sekere ekonomiese sektore soos die eiendomsmark wat feitlik tot ‘n stilstand gedwing is. Die premier se stilswye hieroor is onrusbarend en sal al sy planne om die ekonomie te stimuleer, sinloos maak.

Benewens die kommer oor beleidsonsekerheid rakende eiendomsreg, is 'n verdere kommer die provinsiale regering se onvermoë om sy eie planne te implementeer. Talle departemente is skuldig aan onreëlmatige besteding asook ernstige onderbesteding.

Teen hierdie agtergrond sal selfs swak ontwerpte planne nie eens uitgevoer kan word nie. Die rede vir hierdie gebrek kan direk gelê word voor die deur van aanstellings op grond van Regstellende Aksie (RA) in stede van meriete.

Totdat die provinsiale ANC nie besef dat kaderontplooiing 'n dodelike indiensnemingsresep vir enige staatsadministrasie is nie, sal dienslewering elke jaar meer agteruit gaan.

Die VF Plus is ook teleurgesteld dat daar steeds geen sekerheid is oor die toekoms van die e-tolstelsel nie. Hierdie onwettige stelsel skep ook onsekerheid wat die provinsie se ekonomie skaad en daar moet nou daadwerklik besluit word om dit af te skaf.

Die VF Plus vermoed egter dat die stelsel behoue gaan bly en dat net sekere kategorieë padgebruikers wel vrygestel sal word van betaling. Die premier het verlede jaar op 'n vraag van die VF Plus in die wetgewer geantwoord dat besighede moontlik wel steeds verplig gaan word om e-tol te betaal.

Alhoewel dit gewone padgebruikers vryskeld, is die druk wat die reëling op sake en die ekonomie gaan plaas, onrusbarend. Eindelik is daar geen ander uitweg as die totale afskaffing van die e-tolstelsel nie.

Die plan om ‘n honderd ekstra skole te bou, is positief en die VF Plus sal die departement dophou in dié verband. Aangesien Afrikaanse openbare skole slegs 6% van die totale hoeveelheid skole in Gauteng uitmaak, stel dit die hoop daar dat LUR Panyaza Lesufi die skole nou met vrede sal laat.

Indien die teistering van Afrikaanse skole voortgaan, sal die VF Plus sy veldtog teen Lesufi en sy departement verskerp en sal die party aandring op die implementering van minderheidsregte soos vervat in die internasionale verdrae wat Suid-Afrika onderteken het.

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.