Die premier van die Vrystaat probeer die mense van die Vrystaat ‘n rat voor die oë draai deur lippetaal en mooipraatjies van werkskepping, infrastruktuurontwikkeling en misdaadbekamping, sê Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer. Die premier leef in sy eie Utopië, glo sy eie leuens en verwag van die provinsie se mense om dit ook te glo.
Die premier se openingsrede was meestal ‘n herhaling van planne en projekte wat hy al in vorige openingsredes aangekondig het. Baie min van hierdie projekte realiseer aangesien die Vrystaat se finansiële krisis dit onuitvoerbaar maak.
Die premier het geensins die ernstige finansiële tekort wat die provinsie ondervind aangespreek nie. Dit is betreurenswaardig dat die premier nie leierskap bied en ‘n voorbeeld vir alle vlakke van provinsiale regering stel deur ernstige kostebesparingsmaatreëls en herprioritisering aan te kondig nie.
In plaas daarvan beplan hy eerder ‘n provinsiale ekspo om “geslaagde” dienslewering ten toon te stel, om studente op ‘n toer van apartheidsbakens in onder andere Angola, Mosambiek en Kuba te neem en standbeelde vir onder andere Fidel Castro op te rig.
Dit is ook onaanvaarbaar dat die openingsrede op ‘n privaat wildreservaat naby Vrede plaasgevind het. Die koste hieraan verbonde is astronomies, aangesien byna al die personeel en lede van die Wetgewer in Bloemfontein, munisipaliteite, ministers, amptenare van provinsiale departemente en ander ampsbekleërs en gaste se vervoer- en verblyfkoste gedek is.
Die premier het deurlopend tydens sy toespraak stellings gemaak wat rassepolarisasie aanwakker. Hy het onder andere gesê dat radikale ekonomiese transformasie en grondhervorming bo-aan die provinsie se prioriteitslys gaan wees, tesame met naamsveranderinge.
Hy kies om die probleme van die Vrystaat op wit mense te blameer en aanvaar self geen verantwoordelikheid nie.
Die Vrystaat gaan tans gebuk onder ‘n geweldige werkloosheidskrisis met die grootste verlies aan werksgeleenthede van alle provinsies in Suid-Afrika. Dit is dus jammer dat die premier nie van die geleentheid gebruik gemaak het om uitsprake te maak wat ‘n stabiele en bevorderende omgewing vir die privaatsektor, insluitend mynbou en kommersiële landbou, sou skep en hom in staat te stel om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder nie. Dit sou insluit aankondigings rakende beter finansiële prioriteite, afskaffing van gefaalde regeringsprojekte en die aanspreek van die bestuur, sowel as diensleweringskrisis op munisipale vlak.
In die premier se Utopië gaan dit finansieel en met dienslewering baie goed met die munisipaliteite in die Vrystaat. Dit is duidend op ‘n regerende party wat totaal voeling met die werklikheid en die welstand van die mense van die Vrystaat verloor het.
Kontaknommer: 082 674 6670