Vroulike raadslede wat die afgelope maande 'n teiken van voortslepende verbale mishandeling en dreigemente gedurende raadsittings van Mogale City/Krugersdorp is, skop nou vas teen dié behandeling. Volgens Amanda de Lange, raadslid van die Vryheidsfront Plus en voorsitter van die MPRK (Munisipale Publieke Rekeninge Komitee), val hulle besware binne die raad telkens op dowe ore.
Volgens raadslid De Lange het selfs die media begin kennis neem van die persoonlike en venynige vlak van aanmerkings deur ANC-raadslede teenoor die opposisiepartye se vroulike raadslede.
Daar is al selfs openlike dreigemente deur senior ANC-ampsdraers teenoor die vroulike raadslede gemaak en gedreig dat daar 'met hulle gedeel sal word'.
De Lange sê hulle word deurgaans 'rassiste' genoem en persoonlike beswadderende opmerkings teenoor hulle gemaak. Klagtes teenoor die vorige speaker, Patrick Lepudi, was eenvoudig van die tafel gevee en in een insident het hy selfs die betrokke raadslid se rassistiese opinie gesteun.
“Vroulike raadslede wat die teiken van hierdie vyandige optrede is, was tot in wese geskok toe dit tydens die katastrofiese raadsvergadering verlede Woensdag aan die lig gekom het dat een van die betrokke ANC-raadslede 'n kriminele rekord vir verkragting het. Dié inligting is intussen deur wettige kanale opgevolg en dit is bevestig dat die ANC-wyksraadslid wel ‘n vonnis uitgedien het.
“Volgens regsinligting verjaar vlak ses kriminele oortredings soos moord en verkragting nie, dus kan die oortreding nie van 'n persoon se naam geskraap word nie.
“Daar word gereeld programme deur Mogale City/Krugersdorp en die gemeenskappe geloods teen die geweld teen vroue en kinders en intussen sit ons self met 'n veroordeelde verkragter in ons midde wat deurgaans aggressief teenoor vroue in die raad optree. Die feit dat die vorige speaker en huidige burgemeester telkemale versuim het om daadwerklik in vroue se belang op te tree, is 'n aanklag teen die ANC se integriteit asook hulle keuringsproses vir leiers in gemeenskappe,” het De Lange gesê.
Raadslid De Lange sê dit is die plig van die nuwe ANC-speaker, me. Mangole en die nuwe ANC-burgemeester, mnr. Lepudi, om daadwerklik op te tree in dié verband. Dit is die reg van alle raadslede om veilig te voel in raadsittings.
“Ons kan nie rassistiese opmerkings en dreigemente van mede-opposisie raadslede duld in die uitvoer van ons pligte binne raadsittings nie.”
De Lange het ook bevestig dat die vroulike raadslede van die veelparty-stemblok nie die kwessie daar gaan laat nie en hulle hulself gaan beywer om die eerbaarheid en waardigheid binne die raad te herstel.
Kontak : 071 604 9498