Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vreemde Covid-19-uitgawes in Gautengse onderwysdepartement verdien ondersoek deur SOE

Die VF Plus is bekommerd oor Covid-19-verwante uitgawes wat die Gautengse departement van onderwys in September aangegaan het vir die reuse bedrag van R96 miljoen.

Hierdie bedrag is uitbetaal aan 28 verskillende diensverskaffers waarvan talle lyk of dit rakmaatskappy-name het en dus waarskynlik onlangs gestig is.

Gegewe die vorige Covid-19-bedrog wat in Gauteng oopgevlek is, is daar dus rede om te dink dat alles nie pluis is met hierdie kontrakte nie. Die VF Plus gaan versoek dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ook aandag gee aan al hierdie tenders.

Talle van die maatskappye wat tenders gewen het, se name bevat die woorde "Trading" of "Consulting" wat aanduidend is van die standaardname wat in rakmaatskappye voorkom. Talle maatskappye se name kom vreemd voor vir die tipe diens wat gelewer moet word om geboue te dekontamineer.

Volgens 'n ondersoek gedoen deur Daily Maverick, het drie maatskappye die grootste tenders ontvang. Hiervolgens het een maatskappy R13,9 miljoen ontvang. Twee ander maatskappye met amper dieselfde name, het elk R11,9 miljoen en R4,6 miljoen ontvang.

Die tenders was vir die skoonmaak van skole nadat die skole weer oopgemaak het om leerlinge teen Covid-19 te beskerm. Die skole het egter al sedert 8 Junie begin oopmaak en dit maak daarom nie sin dat hierdie uitgawes nou aangegaan is nie.

Die uitgawes van R96 miljoen is aangegaan in September 2020. In Augustus was soortgelyke uitgawes slegs R13 miljoen. Dit skep baie vrae oor waarom daar so lank ná die skool-heropening op 8 Junie, sulke groot uitgawes aangegaan is.

Verder blyk dit dat die skoonmaak van skole wat lank leeg gestaan het vir Covid-19, nie nodig was nie aangesien die virus nie lank kan oorleef waar daar geen mense vir 'n lang tyd teenwoordig is nie. Volgens kundiges kan die skoonmaakmiddels meer skadelik vir leerlinge en die omgewing wees aangesien dit bestaan uit giftige chemikalieë.

Daarom, gegewe die geskiedenis van die ANC in Gauteng rakende Covid-19-tenders, sal die VF Plus seker maak dat hierdie rits tenders in die Gauteng-onderwysdepartement ook ondersoek word.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.