Berigte oor die lasbrief wat die Valke uitgereik het vir die inhegtenisneming van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is goeie nuus vir Suid-Afrika.
Dit hou glo verband met die korrupte asbes-oudit van die Vrystaatse regering waarvoor sewe mense reeds in hegtenis geneem is. Luidens die berigte sal Magashule Vrydag saam met hulle in die hof verskyn.
Dit beteken die wiele van geregtigheid draai, alhoewel baie stadig. Ondervinding het nogtans geleer dat wanneer die eerste domino in ’n ry val, die ander vinnig daarna volg.
Die VF Plus sal wil sien dat die ondersoekwerk deeglik gedoen is en dat die vervolging van Magashule suksesvol deurgevoer word sodat hy die swaarste straf moontlik kry, selfs gevangenisstraf indien toepaslik, indien hy skuldig bevind word.
Die VF Plus hoop dat al die rolspelers wat betrokke was by die plundering van belastingbetalers se geld, ongeag hul posisie of politieke verbintenisse, in hegtenis geneem sal word, in die hof sal verskyn en dat die ondersoek deeglik genoeg gedoen is om seker te maak hulle kry die gepaste straf.