fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrae oor Mafube-burgemeester se huurmotor, raadslede se munisipale skuld

Die burgemeester van die Mafube-plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat (Frankfort, Villiers, Cornelia, Tweeling), Jabulani Sigasa, se huurmotor kos die munisipaliteit maandeliks sowat R36 000 en raadslede se uitstaande munisipale skuld beloop sowat R6 miljoen.

Dit ten spyte van die feit dat dié munisipaliteit sedert 2017 onder provinsiale administrasie is omdat hy nie daarin kon slaag om sy grondwetlike pligte, soos van ‘n munisipaliteit vereis word, na te kom nie.

Die munisipaliteit is onbevoeg om behoorlike dienste te lewer, finansiële bestuur toe te pas en instandhouding van munisipale infrastruktuur te doen.

Die mislukte dienslewering en die jammerlike toestand van infrastruktuur is weens swak bestuur en ‘n geweldige geldtekort.

In die afgelope drie jaar waartydens die munisipaliteit onder administrasie was, het die situasie slegs vererger en het skuldeisers op onder meer die munisipaliteit se roerende bates soos voertuie, asook munisipale grond, bankrekeninge en ander bates, beslag gelê. Gedurende die afgelope raadsvergadering is bevestig dat die munisipaliteit se uitstaande skuld R528 miljoen beloop.

Dit is onaanvaarbaar dat die ANC-beheerde raad te midde van die algehele verval, steeds onnodige uitgawes soos huurmotors vir die burgemeester en speaker van die munisipaliteit toelaat.

Die Covid-19-aansuiweringsbegroting van die munisipaliteit, wat ook gedurende die raadsvergadering ter tafel gelê is, bevat onder meer planne vir die opgradering van die Cornelia-sportgronde, maar dit bevat nie ‘n plan om die waterinfrastruktuur van die dorpe, wat hoegenaamd nie in stand gehou is, te herstel of op te gradeer nie.

Skoon water is uiters belangrik, nie net vir die bekamping en voorkoming van die Covid-19-virus nie, maar ook is dit ‘n basiese reg van inwoners om toegang tot lopende water te hê.

Die verslag oor die munisipaliteit se finansiële herstelplan meld dat sowat 40% van Mafube se water verlore gaan weens waterlekkasies en wanbetaling, maar behalwe vir voorafbetaalde watermeters wat slegs in sekere gebiede geïnstalleer word, is daar geen betekenisvolle plan om hierdie reuse waterverliese te verminder nie.

Die VF Plus het amptelike vrae gevra oor verskeie kwessies soos onder meer die watermeterinstallasies en sal ook ‘n vraag aan die munisipaliteit rig oor die totale bedrae wat aan huurmotors en ander onnodige luukshede bestee is, waarna die nodige stappe geneem sal word.

Die VF Plus sal voortgaan om die belange van die inwoners van Mafube te dien en sal alles in sy vermoë doen om inwoners se diensleweringsprobleme effektief aan te spreek.

Kontakbesonderhede: 079 517 8059

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.