Luidens mediaberigte is 'n wetsontwerp gepubliseer wat die minister van basiese onderwys se beheer oor skole versterk.
Terwyl verskeie rolspelers die tydsberekening daarvan bevraagteken, wys die VF Plus op die afwesigheid van toepaslike inligting op die departement se webwerf.
Wetsontwerpe word gepubliseer om belanghebbendes kans te gee om dit te bestudeer en kommentaar te lewer.
Daarna volg die parlementêre proses, wat oorweging deur die portefeuljekomitee en stemming in die parlement behels. Die vraag is hoe openbare deelname moet plaasvind sonder publikasie op die departement se webwerf.
Luidens berigte verstryk die periode vir openbare deelname op 15 Januarie 2020. Gegewe die vakansieseisoen bied dit beperkte geleentheid vir deeglike bestudering. Die VF Plus sal vra dat hierdie spertyd verleng word.
Die VF Plus bevestig dat verskerpte sentrale beheer oor onderwys volgens dié party 'n stap in die verkeerde rigting is. Wêreldwyd, in lande met kulturele verskeidenheid, is onderwys 'n funksie van die kultuurgroep.
Die ANC-regering daarenteen, volg die tipies Marxistiese patroon om onderwys allereers vir nasiebou aan te wend.
Kiesers moet daarop let dat die VF Plus die enigste party is wat hom daarvoor beywer dat onderwys 'n uitdrukking van die gemeenskap en sy waardes moet wees. Daarom sal dié party hierdie wetsontwerp met al sy krag teenstaan.
Dit lyk of die nasionale onderwysminister besig is om die voorbeeld van die Gautengse onderwysminister, mnr. Panyaza Lesufi, te volg.
Hy het op 'n skriftelike vraag van die VF Plus in die Gautengse wetgewer geantwoord dat taal byvoorbeeld nie meer 'n oorweging is wanneer skoolhoofde aangestel word nie.
Kontaknommer: 074 166 5540