‘n Protesoptrede deur die plaaslike gemeenskap by die Manyeleti-natuurreservaat in Mpumalanga ten aanskoue van oorsese besoekers, kan die reeds sukkelende toerismebedryf in dié provinsie verder knou.
Die afgelope naweek het ‘n groep aggressiewe betogers, wat onder mekaar baklei en eiendom beskadig het, aan verskeie toeriste, onder wie ses Amerikaners, toegang tot die Manyeleti-natuurreservaat geweier. Die Manyeleti-toegangshek is baie naby aan die Orpen-hek van die Krugerwildtuin.
Die betogers is glo ongelukkig oor 'n grondeis in die reservaat wat jare lank sloer.
Werknemers by luukse kampe in die reservaat is gewaarsku om op hul hoede te wees om die veiligheid van gaste te verseker nadat die betogers gedreig het om die kampe af te brand.
Sommige van die internasionale gaste sal waarskynlik ná hierdie ervaring nie terugkeer nie en beeldmateriaal van die voorval op sosiale media sal toeriste in die algemeen moontlik afskrik om die provinsie te besoek.
Toerisme word algemeen beskou as die bedryf wat die ergste geraak is deur die Covid-19-pandemie en kan nie bekostig om verder gekniehalter te word deur onverantwoordelike optrede nie.
Die VF Plus het die provinsiale LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, gevra om dringend in te gryp en die situasie te ontlont.