Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, versoek om dringend in te gryp nadat ‘n kragmas naby die Coco-Cola-fabriek in Nigel omgeval en groot dele van dié dorp reeds vir drie dae sonder elektrisiteit is.
Die kragmas het omgeval nadat diewe waarskynlik van die staalpale afgesaag het. Dit is 'n uiters kommerwekkende verskynsel en maatreëls moet in plek gestel word om te voorkom dat dié soort diefstal 'n tendens vorm.
Die VF Plus is ook daagliks met die Ekurhuleni-metroraad se departement van energie en die bestuurder van die Nigel-kliëntedienssentrum, Ivy Nkosi, in gesprek om die probleem so vinnig moontlik op te los.
Volgens Nkosi werk die departement onverpoos aan ‘n tydelike oplossing om die krag te herstel deur een van die twee stroombane te elektrifiseer wat moontlik die lading ten volle sal hanteer. Die proses kan sewe dae duur weens die voorgeskrewe munisipale regulasies vir verkrygingsprosesse.
Die langtermyn oplossing is om gedurende die volgende drie tot ses maande die beskadigde kraglyn te herbou wat die volle gebeurlikheidsrisiko aan ‘n bykomende stroombaan sal bied.
Die VF Plus het derhalwe die LUR versoek om in te gryp om herstelwerk volgens regulasie 36 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet te bespoedig. Die regulasie maak voorsiening vir munisipaliteite om vrystelling te verkry van die amptelike verkrygingsprosesse in uitsonderlike gevalle.
Die VF Plus is van mening dat die kragprobleem in Nigel voldoen as ‘n noodgeval en het Cogta versoek om daadwerklik in te gryp en die munisipaliteit te verplig om die vrystelling in terme van wetgewing te volg om krag na die gebied so spoedig moontlik te herstel.
Navrae: 072 217 1951