fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng was lank voor Covid-19 onder die ANC-regering aan die brand

(Debat in Gauteng-wetgewer oor begroting van premier se kantoor)

Die VF Plus het vandag tydens die begrotingsdebat oor die kantoor van die premier dit duidelik gestel dat Covid-19 nie die skuld kan kry vir die foute wat eintlik die ANC s'n is nie.

Die VF Plus het verwys na die premier, David Makhura, se woorde dat die huis aan die brand is in Gauteng weens Covid-19. Die veld om die huis was egter alreeds voor die pandemie aan die brand weens die ANC se swak bestuur van die provinsie in die vorm van ekonomiese agteruitgang, die e-tolstelsel, Life Esidimeni, korrupsie en nogmaals korrupsie.

Die feit is dat Covid-19 net die aanblaser van die vuur was wat gestig is deur die ANC-regering in Gauteng.

Die vuur word verder gevoed deur korrupsie wat net voortgaan tydens die pandemie. Dit is skreiend dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) onlangs bevind het dat R40 miljoen van die kontrakte wat gegaan het aan tenderpreneurs om skole in Gauteng te dekontamineer, bestee is aan eiendom, voertuie, juweliersware en selfs kosmetiese sjirurgie.

Wat die derde vlaag van Covid-19 aanbetref, is dit skrikwekkend dat die ANC-regering niks geleer het tydens die vorige twee vlae nie.

Daar is tans nie genoeg hospitaalbeddens in die provinsie nie, terwyl die Charlotte Maxeke-hospitaal steeds toe is weens 'n brand wat dit gedeeltelik beskadig het.

Hospitale soos Steve Biko-, Helen Joseph- en die Rahima Moosa-hospitaal, het kort-kort watertekorte. Die Nasrec-veldhospitaal is afgeslaan en daar is al hoe meer sprake van suurstof-tekorte.

Die gevolg is dat die ANC se optrede tans lei tot talle mense se dood. Die huis brand want die ANC het die vuur aangesteek nog lank voor die pandemie ons getref het.

Die VF Plus het daarom hom bereid verklaar om in te spring en werk te maak van aksieplanne om die krisis wat tans ontvou in Gauteng, die hoof te bied.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.