(Debat in Gauteng-wetgewer oor volksmoord gepleeg deur Israel teen mense van Palestina)
Die VF Plus het vandag tydens 'n mosie in die Gauteng-wetgewer oor Israel se verhouding jeens Palestina, dit duidelik gestel dat die ANC geen morele gronde het om enige vinger na Israel te wys nie.
Dit is ironies dat die Gautengse ANC-regering dit waag om oor Israel te debatteer terwyl die ANC in gebreke is om sy eie nasionale en internasionale menseregte-verpligtinge na te kom.
Die ANC ondersteun Hamas – 'n organisasie wat die oogmerk het om alle Jode in die Midde-Ooste uit te wis en wat aandadig is aan die ondermyning van bona fide-pogings om vrede te bewerkstellig. Die ANC moet daarom kennis neem dat hy homself skaar by anti-Semitisme.
Die ANC het gewys van watter morele stoffasie hy gemaak is toe die party Omar al-Basjhir, die destydse president van Soedan, aktief beskerm en gehelp het om uit Suid-Afrika te ontsnap.
Die ANC het dit gedoen terwyl daar lasbriewe van die Internasionale Strafhof uit was vir volksmoord, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade.
Wat die ANC se optrede nog meer laakbaar maak, is dat die misdade deur Al-Basjhir teen sy eie mede-Afrikane gepleeg is terwyl die ANC homself hoog opgee oor hoe Afrikane beskerm moet word. Daarom het die ANC geen morele bodem nie.
Verder, nader aan die huis, is die ANC aktief besig om te diskrimineer teen minderhede. Wittes word deur wetgewing benadeel om werk te kry en ondernemings te bedryf. Minderhede se reg op moedertaalonderrig word aktief verskraal terwyl daar pogings is om hulle te ontwapen en te dikteer wat in hulle religieuse omgewing mag gebeur en geglo word. Dit gebeur als binne 'n konteks van die demonisering van minderhede wat in hewigheid toeneem.
Dit is baie ironies dat Israel die enigste demokrasie in die Midde-Ooste is wat ook plek maak vir minderhede in die openbare lewe, parlement en regering. Daar is trouens tans Arabiese minderheidspartye wat deel vorm van die heersende koalisieregering in Israel.
In Palestina is die algemene lewensverwagting van mense 74 jaar, terwyl dit ironies genoeg in Suid-Afrika net 64 is.
Daarom moet die Israelse staat gelos word om self sy vredesplanne met die Palestynse mense uit te werk sonder Hamas.
Die ANC het geen morele gronde om self vir Israel te preek nie.