Die VF Plus het vandag tydens `n ad hoc-komiteevergadering in die nasionale raad van provinsies (NRP) sterk standpunt ingeneem teen die voortsetting van die skynbaar vrugtelose en duur poging tot Artikel 100-ingryping in Noordwes.
Na `n periode van drie jaar onder administrasie, teen `n beraamde koste van meer as R100 miljoen, ly die inwoners van Noordwes steeds onder swak dienslewering op alle regeringsvlakke.
Die provinsie is reeds in 2018 deur die nasionale regering onder administrasie geplaas nadat dienslewering onder die bewind van die vorige ANC-premier, Supra Muhamapelo, bykans tot stilstand gekom het weens wanadministrasie en korrupsie.
Dienste op provinsiale vlak, sowel as in die meeste munisipaliteite, is skynbaar lamgelê deur die ANC se beleid van kaderontplooiing en gepaardgaande korrupsie.
Muhamapelo is intussen ontplooi as `n ANC-parlementslid en is ook deur sy party getaak om `n politieke skool te lei.
Ná aanvanklike beloftes deur die nuwe premier, Job Mokgoro, dat daadwerklike ingryping en regstellende optrede sou volg, is daar na drie jaar teleurstellend min resultate. Wanadministrasie, onderbesteding van begrotings en die versuim om kritieke poste met bekwame mense te vul, duur voort.
Aangestelde administrateurs by departemente en munisipaliteite word nie aanspreeklik gehou vir die voortgesette swak dienslewering nie.
Die ondersoek en vervolging van korrupte amptenare en politici word skynbaar selektief ingestel. Ten spyte van uitdruklike riglyne wat voorsiening maak vir onder meer onafhanklike oudit-ondersoeke, weier die komitee byvoorbeeld `n versoek van die VF Plus vir `n dringende forensiese ondersoek na die geldsake van die JB Marks-munisipaliteit. Hierdie munisipaliteit het reeds berugtheid verwerf vir korrupte praktyke wat daar oopgevlek is.
Die VF Plus het dit aan die komitee gestel dat die enigste klaarblyklike oplossing vir hierdie krisis in dienslewering, die ontbinding van die provinsiale wetgewer is om vervang te word met nuwe lede wat die kundigheid en politieke wil het om die mense van Noordwes te dien.
Kiesers moet in die komende verkiesings saam met die VF Plus staan en met hul stemme verseker dat die ANC uit regering verwyder word.