Die volgehoue druk van die VF Plus op die burgemeester van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging), Sipo Radebe en ander amptenare, het daartoe gelei dat die foutiewe transformator in Vanderbijlpark se industriële gebied uiteindelik vervang is.
Dié ligte nywerhede het nou ná 43 dae weer elektrisiteit.
Een van die nywerhede moes noodgedwonge 200 werkers aflê. Net drie werkers het behoue gebly.
Dit is nie die eerste keer dat ondernemings in Emfuleni gedwing word om hul deure te sluit weens swak dienslewering en gebrekkige infrastruktuur nie.
Die diensverskaffer van die munisipaliteit het geëis dat Emfuleni eers sy agterstallige skuld betaal en vooruit betaal vir die nuwe transformator alvorens dit aangekoop word.
Die munisipaliteit kon nie aan dié voorwaardes voldoen nie en ‘n nuwe diensverskaffer moes aangestel word.
Daar is R165 miljoen in die 2020/21-begroting begroot vir die onderhoud en opgradering van Emfuleni se kragnetwerk, maar dit is onseker hoeveel daarvan al bestee is vir die doel.
Die VF Plus het Radebe gevra om ondersoek in te stel en verslag te doen oor hoe en of die geld aangewend is.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe nywerhede, wat ‘n groot ekonomiese bydrae maak tot die plaaslike ekonomie en broodnodige werk verskaf, Emfuleni verlaat weens swak dienslewering en 'n gebrek aan infrastruktuurinstandhouding nie.
Navrae: 076 616 2124