fbpx
Vryheidsfront Plus

Agteruitgang in land wys glybaan van Ramaforia tot ‘Ramp’-maphosa

(Debat in parlement oor staatsrede-2022)

’n President van ’n land sal onthou word vir dit wat hy in sy termyn vermag het. Met die agteruitgang in die land sedert 2018 is dit in president Cyril Ramaphosa se geval ’n glybaan van Ramaforia tot ‘Ramp’-maphosa.

Dit blyk duidelik uit die president se leë beloftes en ondernemings sedert sy eerste staatsrede in 2018.

President Ramaphosa het in 2018 onderneem om Suid-Afrika te neem op ’n pad van groei, werkskepping en transformasie deur ’n eksklusiewe maatskaplike konstruk.

Sentraal hieraan sou werkskepping staan, in besonder vir die jeug. Die realiteit vier jaar later skets ’n ander prentjie. In sy eerste jaar het groei – lank voor Covid-19, afgeneem vanaf 1,1% tot 0,8%. In 2019 het dit verder afgeneem tot 0,113%.

In 2018 was werkloosheid 27,1% en uitgebreide werkloosheid 37%. Dit het gestyg tot die mees onlangse 34,9% met die uitgebreide werkloosheidskoers van 46,6%.

Die president sê nou dat die staat nie werk skep nie, maar die private sektor. Almal weet dit. Kom die president dit nou eers agter, of word dit gerieflik misbruik om die skuld vir werkloosheid subtiel op die private sektor te pak?

Die president het nou gepraat van ’n taakspan om burokratiese rompslomp te takel. Dit het hy ook in 2020 onderneem deur die belofte dat maatskappye met die druk van ’n vinger geregistreer sou kon word.

Die enigste wie werklik hierdeur bevoordeel is, is die maatskappye wat oornag geregistreer is om die Covid-19-hulpfonds te stroop in die naam van swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Deur bloot toe te sien dat bestaande departemente behoorlik funksioneer, sal rompslomp reeds tot ’n groot mate uitgeskakel word.

Die president praat gereeld van ’’Local is lekker’’ om plaaslike belange te onderstreep. Dit word egter nie in die praktyk uitgevoer nie. Kubaanse ingenieurs wat nie eens behoorlik gekwalifiseer is om plaaslik te werk nie, word na Suid-Afrika gebring terwyl plaaslike ingenieurs werkloos is.

Die regering gee R50 miljoen aan Kuba vir voedselsekerheid terwyl sowat 40% van Suid-Afrikaners onder die broodlyn leef. Ware welwillendheid begin in jou eie land.

Die VF Plus sal eers die regering se erns oor ekonomiese groei glo wanneer vakbonde se mag ingeperk word en weggedoen word met SEB en regstellende aksie (RA).

In 2018 het die president gesê mense van alle rasse moet deel wees van die bouproses in die land, maar steeds word daar op grond van ras gediskrimineer soos nou weer blyk in wysigingswetsontwerpe wat onder meer ’n aanslag loods op Afrikaanse skole.

Wetgewing word nou oorweeg om die finale besluit oor skole se taal en toelatingsvereistes by provinsiale departementshoofde te plaas.

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, wil Afrikaans nie eens as ’n inheemse taal erken nie.

Buiten die verslag oor die onluste in Julie verlede jaar wat die president en die regering se skuld uitwys, het die president reeds in 2018 ’n verslag ontvang wat die wanorde en korrupsie in die staatsveiligheidsagentskap (SVA) uitwys. Daar is niks aan gedoen nie.

Aan die een kant sê die president hy wil misdaad in Suid-Afrika beveg, maar in die praktyk word die polisiebegroting toenemend verminder. Dit is nou slegs 5% van die totale begroting.

Net ’n verandering aan regering kan Suid-Afrika red. Leë woorde en holle beloftes sal dit nie meer regkry nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.