Die VF Plus het Donderdag tydens ʼn raadsitting van die Ekurhuleni-metroraad duidelikheid gevra oor waar die R5 miljoen vandaan gaan kom vir die huur van lokale vir die G20-maatskaplike beraad.
Dié beraad vind plaas vanaf 18 tot 20 November.
Sowat 5000 afgevaardigdes sal die beraad, wat fokus op jeugwerkskepping, inklusiewe groei en die toenemende kloof tussen ryk en arm, bywoon.
Gedeeltes van die beraad word by die Birchwood-hotel en die OR Tambo-konferensiesentrum aangebied en die metro dra die verantwoordelikheid vir die huur van hierdie geriewe.
Wat kommer wek, is dat hierdie uitgawe nie in die metro se begroting vervat is nie en ook nie in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) verskyn nie.
Die VF Plus eis daarom ʼn volledige bekendmaking oor watter begrotingspos die R5 miljoen vir lokale moet befonds, of die tesourie die uitgawe ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) goedgekeur het, en of die metro beplan om bestaande diensleweringsprogramme te sny of nóg ’n lening aan te gaan wat die metro se skuldlas verder sal verhoog.
Hierdie besluit weerspieël ’n groeiende tendens waar prestige projekte en politieke beeldpoetsery voorkeur geniet, terwyl die werklike behoeftes van inwoners geïgnoreer word.
Die skielike “opknapping” van Kemptonpark se sakekern, ná jare se verwaarlosing wek die indruk dat die metro slegs reageer wanneer internasionale aandag betrokke is.
Plaaslike ondernemings en inwoners smeek al vir jare om ingryping te midde van verval, wetteloosheid en infrastruktuur-agteruitgang, maar die metro het dit bloot geïgnoreer.
Maar nou, met die wêreld se oë op Kemptonpark, is daar skielik geld beskikbaar en ʼn dringendheid om die gebied op te knap.
Inwoners verdien eerlike bestuur en deursigtigheid en nie skynvertonings en oëverblindery nie.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat die metro volle verantwoordelikheid neem en die publiek ingelig word oor elke sent wat bestee word.


