Die VF Plus veroordeel die wrede plaasaanval op Jan en Elna Dhooge van Schikfontein buite Heidelberg in die sterkste terme.
Hierdie aanval, wat Dinsdagaand plaasgevind het, is nie net ’n misdaad teen twee geliefde gemeenskapslede nie, maar ’n skokkende herinnering aan die onaanvaarbare vlakke van geweld waarmee plaasaanvalle en -moorde gepaardgaan.
Vyf gewapende en gemaskerde aanvallers het die egpaar in hul huis oorval, Jan in die nek geskiet en Elna ernstig aangerand.
Die feit dat hulle die aanval oorleef het, is niks minder as ’n wonderwerk nie.
Hierdie voorval bevestig weer die VF Plus se standpunt dat plaasaanvalle en -moorde nie gewone misdaad nie.
Dit is doelgerigte, gewelddadige oortredings wat dikwels met die uiterste wreedheid gepaard gaan.
Die regering se aanhoudende versuim om landelike veiligheid te prioritiseer is verraad teen die mense wat voedsel produseer, werk skep en gemeenskappe onderhou.
Die party sal aanhou druk uitoefen op nasionale en provinsiale vlak vir ’n daadwerklike veiligheidsplan vir landelike gebiede.
Die VF Plus betuig sy medelye met die Dhooge-familie en wens hulle ’n spoedige herstel toe.


