Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus wil help om Namakwalanders weer in Brazil te kry vir vakansie

Namakwalanders wat reeds langer as sestig jaar hul jaareindvakansie gaan hou op ‘n stukkie strand naby Kleinzee wat as “Brazil” bekend staan, is nie meer daar welkom nie – en selfs die diamantsmous Louis Liebenberg word hierby ingesleep.

Die VF Plus gaan nou as bemiddelaar tussen die Namakwalanders en die departement van openbare werke en infrastruktuur intree in ‘n poging om die saak te beredder. Tot dan moet die tentpenne ongelukkig elders ingeslaan word.

Die agtergrond is dat mense van dié streek en verder oor die land oor dekades ‘n gevestigde tradisie het om jaarliks oor die feestyd op dié stuk grond naby Kleinzee te kampeer met tent en karavaan.

Die departement het glo in 2023 besluit dit is nie meer toelaatbaar nie. Die besluit is glo nie met die publiek gekommunikeer nie en toe hulle verlede Desember daar opdaag, het die polisie en glo selfs die weermag hulle verjaag.

Redes wat aangevoer is, is dat mense mors, daar nie ablusiegeriewe is nie en dat sommiges selfs onwettig sand myn vanaf die strand.

Die burgemeester van die Nama Khoi-munisipaliteit, mnr. Rodney Kritzinger, sê hy was self vir jare ‘n gereelde kampeerder by Brazil. Hy sê ‘n amptelike kampeerdergroep is gevorm en die mense het hul eie streng reëls gehad oor netheid en dissipline.

Hy was een van die kampeerders wat verjaag is en toe hulle probeer uitvind wat aangaan, was daar selfs ‘n gerug dat Louis Liebenberg dit uit venyn deur ‘n ANC-minister laat bewimpel het omdat die voormalige DA-LP Veronica van Dyk ook gereeld daar gekamp het.

Mnr. Kritzinger het in gesprek getree met die departement en het “byna” ‘n deurbraak bewerkstellig toe ‘n paar omgekrapte Namakwalanders hul stem dik gemaak het by die departement. Net daar het die deure weer toegeklap.

In die laaste brief wat mnr. Kritzinger van die departement ontvang het, word bevestig dat die terrein wel gesluit is. Die deur word nogtans op ‘n skrefie oopgelaat deur te sê die “terrein voldoen nie aan regulatoriese vereistes” nie.

Mnr. Kritzinger sê die kampeerders is bereid om self in te spring met die oprigting van infrastruktuur aangesien die kampeergroep onderling al ‘n stewige bedrag in ‘n beurs versamel het.

Dit is hier waar die VF Plus gaan intree om die departement te vra om sy besluit tog te heroorweeg sou die kampeerders hul deel bring. Dit sou net billik wees en beide die departement en die kampeerders sou wen in so ‘n situasie.

Wie wil dan oorsee reis in Desember as jy in Brazil kan gaan uitkamp?

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.